Dik, bros pizza

Huisgenoot


Dis nie nodig om pizza te bestel nie. Bly by die huis en maak die beste pizza.

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 15 min.
Staantyd: 2 uur
Gaarmaak: 30 min.

Kors
750 ml (3 k) meel
125 ml (½ k) polenta
5 ml (1 t) sout
15 ml (1 e) strooisuiker
10 g suurdeeg
250 ml (1 k) warm water
140 g botter, gehalveer, helfte gesmelt, helfte versag

Tamatiepasta

30 g botter
1 ui, gerasper
2,5 ml (½ t) sout
5 ml (1 t) droë origanum
5 ml (1 t) brandrissievlokkies
3 knoffelhuisies, fyn gedruk
400 g tamaties
1 ml (¼ t) strooisuiker

Bolaag
150 g mozzarella, gerasper
3 brandrissies, gekap
1 groen soetrissie
100 g sampioene, in skywe gesny
250 g strepiespek

Voorverhit dit oond tot 200 °C
1. KORS Meng die droë bestanddele. Voeg die warm water en gesmelte botter by. Knie sowat 10 min. Haal die deeg uit die bak en vorm in ’n bal. Smeer ’n groot mengbak liggies met olyfolie en plaas die deeg daarin. Bedek en laat sowat 2 uur rys.
2. Bestrooi ’n groot werkoppervlak liggies met meel, plaas die deeg op die meel en knie liggies af om enige lugborrels te verwyder. Rol die deeg in ’n groot reghoek van 15 x 12 cm. Smeer die versagte botter oor die deeg. Rol dit in die lengte op. Sny die deeg middeldeur. Vorm die twee stukke deeg in balle en rol dit tot die dikte van ’n pizzabasis uit. Plaas op ’n bakplaat en los 10 min.
3. SOUS Plaas die botter in ’n middelslag-kastrol en voeg die ui, sout, origanum en brandrissievlokkies by. Wanneer die ui effens verbruin het, voeg die knoffel, tamaties en suiker by. Stel die hitte laer en laat die mengsel prut tot verdik. Verwyder van die hitte en hou eenkant.
4. BOLAAG Smeer die tamatiemengsel oor die basisse. Strooi kaas, soetrissies, brandrissies en sampioene oor. Pak die spekvleis bo-op en bak 20 min. of tot die pizza’s goudkleurig en die spekvleis gaar is.

Deur Carmen Petersen
Gestileer deur Hope Malau
Foto’s: Megan Miller