Jou spyskaart vir Kersdag!

Is jou feestyd ook ’n tyd van stryd teen tafels wat kreun onder té veel disse en ’n poegaai gasvrou omdat sy ure voor ’n warm stoof deurgebring het ter wille van haar gaste se aptyt?

Ons het vir jou ’n heerlike spyskaart uitgewerk.

Klik hiervir ’n aflaaibare spyskaart vir die dag.
Klik hier vir feestelike Kersplekmatjies en geskenknaamkaartjies

Voorgereg: Calamarislaai met thai pesto

Die pesto sorg vir ’n lekker bytsmakie.

Bereiding: 15 minute
Gaarmaaktyd: 5 minute
Lewer 3 porsies

calamarislaai

TAMATIESLAAI
400 g tamaties van verskillende kleure en groottes, in kwarte gesny
20 ml (4 t) olyfolie
30 ml (2 e) rooiwynasyn
4 stingeluie, gekap
sout en peper
2-3 Israeliese komkommers, in linte gesny

CALAMARI
400-600 g skoongemaakte babacalamari- buise en -tentakels
60 ml (1⁄4 k) botter
sap van 1 suurlemoen
100 g Thai-pesto (resep onder) sout en peper na smaak basilieblare vir bo-oor sprinkel

  1. Tamatieslaai Meng al die slaaibestanddele liggies en stapel dit op ’n bord.
  2. Calamari Spoel die calamari af en druk dit goed droog.
  3. Braai net voor opdiening ’n paar op ’n slag sowat 2 minute oor hoë hitte in die gesmelte botter of tot dit net-net wit verkleur.
  4. Meng die suurlemoensap en pesto deur. Geur met die sout en peper.
  5. Skep die calamari bo-op die slaai en sprinkel basilieblare bo-oor.

THAI-PESTO
100 g elk vars basilie- en koljanderblare 1 brandrissie
10 g vars gemmer, geskil
20 g knoffel, geskil
50 g okkerneute of sonneblomsade 50 ml olyfolie
sap van 1 suurlemoen
1-2 ml (1⁄4-1⁄2 t) vissous

Pesto Pols die basilie- en koljanderblare, brandrissie, gemmer, knoffel en neute of sade in ’n voedselverwerker tot fyn. Giet die olyfolie, suurlemoensap en vissous deur die tuit.

KLIK HIER OM JOU EIE HUISGENOOT LAE-KOOLHIDRAATRESEPTEBOEK TE BESTEL

Hoofgereg 1: Gerolde vleisbrood met tong, feta en spinasie

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 15 min.
Gaarmaak: 1 uur 15 min.

Huisgenoot

1 kg maer beesmaalvleis
3 knoffelhuisies, fyn gedruk
’n hand vol pietersielie, gekap
2 eiers
180 ml (¾ k) broodkrummels
sout en peper
100 g gaar tong, gekap
200 g feta, gekrummel
2 groot hande vol spinasieblare
500 g gebottelde pastasous

Voorverhit die oond tot 180 °C. Plaas ’n groot vel foeilie op ’n werkoppervlak.

1. Voeg die maalvleis, knoffel, pietersielie, eiers, broodkrummels, sout en peper saam in ’n groot bak. Meng goed met jou hande.
2. Keer die maalvleismengsel op die foelie uit en vorm in ’n groot, dik reghoek. Sprei die bolaag van tong, kaas en spinasie oor die mengsel uit, maar los 2 cm om die rand van die reghoek sonder bolaag.
3. Vat die lang kant van die foelie en rol die vleisbrood styf van jou af weg terwyl jy algaande die kaas en spinasie invou. Trek die foelie na jou toe terwyl jy rol. Verseël die punte van die maalvleis sodat die vulsel nie uitlek nie. Vou die hele vleisbrood in foelie toe en verkoel 1 uur.
4. Plaas op ’n bakplaat, bedek en bak 1 uur. Maak dan die foelie oop en giet die pastasous oor die vleisbrood. Bak nog 15 min. onbedek. Sit voor saam met fyn aartappel en slaai.

Hoofgereg 2: Speseryhoender met botterrys

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 15 min.
Gaarmaak: 25 min.

web
15 ml (1 e) fyn knoffel
5 ml (1 t) komyn
15 ml (1 e) paprika
10 ml (2 t) hoenderspesery
15 ml (1 e) olyfolie
1 kg hoenderstukke

BOTTERRYS
15 ml (1 e) olyfolie
4 knoffelhuisies
½ ui, fyn gekap
500 ml (2 k) rys
500 ml (2 k) hoenderaftreksel
250 ml (1 k) water
40 g botter
sout en vars gemaalde swartpeper

Voorverhit die oond tot 200 ˚C.

  1. Meng die knoffel, komyn, paprika, hoenderspesery en olie in ’n bak om ’n pasta te vorm. Vryf die hoenderstukke met die mengsel en plaas dit oor ’n roosterpan. Rooster 25 min. of tot gaar.
  2. BOTTERRYS Verhit die olie in ’n pan oor matige hitte. Voeg die knoffel en ui by en braai 3 min. Voeg die rys by en roer tot dit deurskynend word. Voeg die aftreksel en water by, bedek en stel die hitte af tot matig laag.
  3. Kook 12 min. tot die vloeistof verdamp het en geur met sout en peper. Haal van die stoof af en laat 10 min. rus.
  4. Voeg nou die botter by en roer die rys in om dit donsig te maak en die botter te versprei.

Bykos 1: Groenboonslaai

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 10 min.
Gaarmaak: 15 min.

green-bean-salad

700 g groenbone, punte afgesny
2 lemoene, geskil
60 ml (¼ k) olyfolie
100 g spekvleisstukke
2 rooi-uie, in dun skywe gesny
15 ml (1 e) balsemieke asyn
15 ml (1 e) bruinsuiker
sout en peper

  1. Bring ’n groot kastrol soutwater oor hoë hitte tot kookpunt. Kook die bone 3 min. of tot heldergroen en net sag. Dreineer. Vervars onder koue lopende water. Dreineer en sit eenkant.
  2. Druk die sap van een lemoen in ’n bak uit. Skil die ander lemoen en breek in segmente, wat jy heel gaan gebruik.
  3. Verhit die olie in ’n braaipan oor matige hitte. Voeg die spekvleis en uie by.
  4. Braai 5 min. of tot goudkleurig. Skep in ’n bak uit. Gooi die asyn, suiker en uitgedrukte lemoensap in ’n pan.
  5. Kook 2 min. terwyl jy roer of tot die mengsel begin kook. Verwyder van die hitte.
  6. Voeg die bone en lemoensegmente by die uie. Geur met die sout en peper. Meng deur. Skep op ’n platbord. Bedruip met die asynmengsel.
  7. Bykos 2: Braai-aartappels

    Genoeg vir 4-6 mense
    Bereiding: 5 min.
    Gaarmaak: 45 min.

    AppleMark

    AppleMark

    500 g baba-aartappels
    80 ml (⅓ k) olyfolie
    3 knoffelhuisies, fyngemaal
    15 ml (1 e) droë gemengde kruie
    ’n knippie cayennepeper
    sout en peper
    30 g parmesaankaas, gerasper
    2 sprietuie, in skywe gesny
    Sous
    30 ml (2 e) suiker
    30 ml (2 e) witwynasyn
    5 ml (1 t) heelkorrelmosterd
    2,5 ml (½ t) brandrissievlokkies
    125 ml (½ k) olyfolie

    Voorverhit die oond tot 200 ˚C.

    1. Sny met ’n skerp mes diep kepe in die rou aartappels.
    2. Meng die olie, knoffel, kruie, cayenne, sout en peper in ’n klein bak. Verf die mengsel oor die aartappels.
    3. Sit die aartappels op ’n gevoerde bakplaat en 45 min. in die oond terwyl jy dit af en toe bedruip tot die aartappels bros aan die buitekant en sag aan die binnekant is. Haal uit die oond.
    4. Garneer met die parmesaankaas en sprietuie.
    5. Sous: Meng al die bestanddele en giet oor die aartappels.

    Nagereg

    Genoeg vir 10 mense
    Bereiding: 10 min.
    Verkoel: 3 uur

    AppleMark

    AppleMark

    100 g botter
    300 g melksjokolade, gekap
    385 ml kondensmelk
    200 g broskoekies
    160 g Peppermint Crisp-stafies, gekap
    80 g malvalekkers, gehalveer
    100 g geroosterde, gesoute kasjoeneute, grof gekap
    kakaopoeier vir bestuif

    Voer ’n gewone broodpan met ’n vel kleefplastiek uit en plaas eenkant.
    1. Meng die botter, sjokolade en kondensmelk in ’n kastrol oor lae hitte en roer tot gesmelt.
    2. Breek die koekies in stukke in ’n ander bak en meng met die stukke Peppermint Crisp, malvalekkers en neute.
    3. Meng die gesmelte sjokolademengsel met die koekiemengsel en roer goed deur. Giet in die gevoerde broodpan in en hou 3 uur in die yskas of tot heeltemal gestol. Haal dit uit die vorm, bestuif met kakao en sny in skywe.