Groenboonslaai

green bean salad


Hierdie eenvoudige slaai lyk indrukwekkend en is smaaklik.

Genoeg vir 6 mense
Bereiding: 10 min.
Gaarmaak: 15 min.

700 g groenbone, punte afgesny
2 lemoene, geskil
60 ml (¼ k) olyfolie
100 g spekvleisstukke
2 rooi-uie, in dun skywe gesny
15 ml (1 e) balsemieke asyn
15 ml (1 e) bruinsuiker
sout en peper

  1. Bring ’n groot kastrol soutwater oor hoë hitte tot kookpunt. Kook die bone 3 min. of tot heldergroen en net sag. Dreineer. Vervars onder koue lopende water. Dreineer en sit eenkant.
  2. Druk die sap van een lemoen in ’n bak uit. Skil die ander lemoen en breek in segmente, wat jy heel gaan gebruik.
  3. Verhit die olie in ’n braaipan oor matige hitte. Voeg die spekvleis en uie by.
  4. Braai 5 min. of tot goudkleurig. Skep in ’n bak uit. Gooi die asyn, suiker en uitgedrukte lemoensap in ’n pan.
  5. Kook 2 min. terwyl jy roer of tot die mengsel begin kook. Verwyder van die hitte.
  6. Voeg die bone en lemoensegmente by die uie. Geur met die sout en peper. Meng deur. Skep op ’n platbord. Bedruip met die asynmengsel.

Deur Hope Malau
Foto: David Briers