Piesang-crêpes

Drum


Slaan hierdie soet bederf vir die gesin binne minute aanmekaar.

GENOEG VIR 4 MENSE
Bereiding: 10 min.
Gaarmaak: 20 min.

Crêpes
200 ml (¾ k) meel, gesif
’n knippie sout
2 eiers
200 ml (¾ k) melk gemeng met 60 ml (¼ k) water
15 ml (1 e) strooisuiker
50 g botter

Sous
125 ml (½ k) strooisuiker
40 g botter
125 ml (½ k) room
1 piesang, in skywe gesny

1. CRÊPES Sif die meel en sout in ’n groot mengbak deur ’n sif wat hoog bo die bak gehou word sodat die meel lug kry. Maak ’n holte in die middel van die meel en breek die eiers daarin. Begin klits.
2. Voeg geleidelik klein hoeveelhede van die melk-en-watermengsel by terwyl jy klits. Wanneer al die vloeistof bygevoeg is, skraap bietjies meel met ’n rubberspatel van die kante af middel toe. Klits nog ’n keer tot die beslag glad is en die digtheid van dun room het. Roer die suiker by die beslag in.
3. Smelt die botter in ’n pan en giet dit in ’n bak en plaas eenkant. Gebruik die oorblywende botter in die pan om die pan te smeer. Giet 60 ml (¼ k) van die beslag in die middel van die pan en draai om egalig te versprei. Braai 30 sek. en keer om. Braai nog 10 sek. en keer op die snyplank uit. Lê die crêpes plat uit om af te koel. Hou aan om die gesmelte botter te gebruik om die pan te bedek en braai die crêpes tot al die beslag gebruik is.
4. SOUS Plaas die suiker in ’n pan oor matig-lae hitte en sprei dit egalig oor die bodem van die pan uit. Wag tot die suiker van die kante af begin smelt. Voeg die botter in en roer die room in tot glad en effens verdik. Verwyder van die hitte en voeg die piesangskywe by. Vou die crêpes en giet die sous oor om voor te sit.

Deur Hope Malau
Foto’s: Megan Miller