Bessie-mousse

web food


’n Heerlik ligte en donserige mousse. Jy kan vars bessies gebruik, indien jy dit verkies.

GENOEG VIR 6 MENSE
Bereiding: 20 min.
Kook: 8 min.

400 g bevrore gemengde bessies, ontvries
4 eiers, geskei
150 ml strooisuiker
300 ml room
4 gelatienvelle
’n knippie sout

1. Blits die bessies in ’n verwerker en giet deur ’n sif. Gooi die saad weg en hou die puree.
2. Klits die eiergele en suiker tot vaal en donserig. Plaas die room in ’n kastrol oor lae hitte. Wanneer die room verhit is, giet dit by die eiermengsel in terwyl jy klits en giet die nuwe mengsel terug in die kastrol.
3. Roer aanhoudend oor lae hitte tot die vla effens verdik. Giet in ’n beker en roer die bessiepuree in. Bedek met kleefplastiek en laat heeltemal afkoel.
4. Week die gelatien 10 min. in koue water. Druk die oortollige water uit en klits ’n eetlepel kookwater in om dit te laat smelt voor jy dit by die bessievla inklits.
5. Klits die eierwitte saam met die sout in ’n skoon bak tot sagte punte vorm en vou met ’n groot metaallepel by die vla in tot heeltemal ingemeng.
6. Giet in opdienglase of -koppies en plaas in die yskas om oornag te stol. Versier met ’n paar bessies en sit voor.

Deur Hope Malau
Foto’s: Misha Jordaan