Karamel-sjokoladebruintjies

hope31jul


Dié sjokoladebruintjies is so lekker, jy sal dit wil wegsteek en stilletjies alleen geniet.

Lewer 12 bruintjies
Bereiding: 15 min.
Gaarmaak: 25 min.
Rus: 3 uur

100 g donkersjokolade, gekap
125 g botter
250 ml (1 k) bruinsuiker
2 eiers
125 ml (½ k) meel
15 ml (1 e) kakaopoeier
Karamel
500 ml (2 k) strooisuiker
125 ml (½ k) water
50 g botter
125 ml (½ k) room
Sjokolade
300 g donkersjoklade, gekap
125ml (½ k) room

Voorverhit die oond tot 180 °C en voer ’n vierkantige koekpan uit met bakpapier.

  1. Plaas die sjokolade en botter in ’n klein kastrol oor lae hitte en roer tot gesmelt en glad. Laat staan eenkant. Plaas die bruinsuiker, eiers, meel en kakaopoeier in ’n bak met die sjokolademengsel en meng goed. Skink in ’n 20 cm vierkantige koekpan wat liggies met olie besmeer en met bakpapier uitgevoer is en bak 20 min. Laat dit in die koekpan afkoel.
  2. Karamel: Sit die strooisuiker en water in ‘n klein kastrol oor lae hitte en roer. Verhoog die hitte sodra die suiker opgelos is en laat kook. Kook terwyl jy dit 8 min. roer of tot dit goudbruin is. Voeg die botter en room by en roer tot dit goed gemeng is.
  3. Skink die karamelmengsel oor die sjokoladebruintjies, maak die bokant glad en laat staan 30 min. of tot dit amper gestol het.
  4. Sjokolade-ganache: Plaas die sjokolade en room in ’n kastrol oor baie lae hitte en roer tot die sjokolade gesmelt en glad is. Skink die ganache oor die karamel laat dit 3 uur afkoel of tot gestol. Sit dit op ’n bord en sny in blokkies.

Deur Hope Malau
Foto: David Briers