Kersroomys

web food


Ná ’n groot Kersfees-middagete is ’n romerige en ligte nagereg in die kol.

GENOEG VIR 6 MENSE
Bereiding: 15 min.
Gaarmaak: 8 min.

1 vanieljepeul
500 ml (2 k) melk
375 ml (1½ k) strooisuiker
7 eiergele
200 g winkel-Kerspoeding, gekap
300 ml room
5 ml (1 t) vanieljegeursel

1. Splits die vanieljepeul oorlangs met die punt van ’n skerp mes en skraap die binnekant om die saad te verwyder. Voeg sowel die peul as die saad in ’n kastrol saam met die melk en bring tot kookpunt. Wanneer dit kook, verwyder van die hitte, plaas eenkant en haal die vanieljepeul uit.
2. Klits die suiker en eiergele saam in ’n aparte bak tot roomkleurig. Klits dan geleidelik die warm melk in.
3. Giet die mengsel in ’n aparte kastrol oor lae tot matige hitte en hou aan roer tot dit genoeg verdik het om die agterkant van die lepel te bedek. Moet dit nie laat kook nie, want die mengsel sal skif.
4. Meng die gekapte Kerspoeding sagkens in en hou aan om liggies te roer. Giet die inhoud van die kastrol in ’n groot bak en laat afkoel.
5. Klits intussen die room tot sagte punte vorm en voeg dit saam met die vanieljegeursel in die bak.
6. Karring in ’n roomysmaker of plaas bloot die mengsel in die vrieskas en klits elke af en toe tot dit gevries is.

Deur Hope Malau
Foto’s: Misha Jordaan