Drie heerlike maniere met koejawels

CAR KOS 4 JUL


Met koejawels kan jy heerlike winterkos optower. Dié gesonde vrug is nie net smaaklik nie, maar ook propvol vitamien C.

1. Gestoofde koejawels: Skil 8-10 koejawels en sny in kwarte. Plaas in ’n diep kastrol. Voeg 375 ml (1½ k) suiker, 1 steranys, 1 kaneelstok en 2 heel kardamompeule by die koejawels. Giet water in tot net bedek, laat prut oor lae tot matige hitte tot die koejawels sag is en die water stroperig word. Sit warm voor saam met vla.

2. Koejaweltert: Voorverhit die oond tot 200 °C en smeer ’n muffinpan. Rol ’n rol skilferkorsdeeg uit op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is en sny sirkels om in elke muffinholte te pas. Bedek die kante ook en prik liggies met ’n vurk. Sny 6 geskilde koejawels middeldeur en plaas elke helfte in ’n muffinholte. Bestrooi met bruinsuiker en bak 15-20 minute tot die deeg gaar is. Sit voor met vla of geklopte room.

3. Koejawel-verglanste vark: Voorverhit die oond tot 200 °C. Skil en ontkern 4-6 koejawels en plaas in ’n verwerker. Voeg 30 ml heuning, 30 ml sojasous en 5 ml Chinese vyfspeserymengsel by en verwerk goed. Geur 4-6 varktjops met peper en giet die koejawelsous oor. Laat marineer 30 minute in ’n oondvaste bak. Bak 15-20 minute in die oond of tot gaar en verbruin. Sit voor met kapokaartappel en seisoengroentes.

Carmen Hendricks (Kosassistent – Huisgenoot en YOU)