Ja Ma, dié storie gaan jou laat bloos!

Ek kon verjaardae nog nooit heeltemal verstaan nie.

Foto: Verskaf

Ma en dogter. Foto: Verskaf

 

Almal bederf ’n mens, selfs die kwaai kollega op kantoor is ten minste beskaafd met jou. As jy ’n kind is, is dit een allemintige paartie. Maak nou nie saak of dit ’n avontuurpartytjie met seerowers is of net (soos myne gewoonlik was) ’n lang tafel met rooi kreukelpapier en uiters baie kaaskrulle, ballonne, Jannie-verjaarkoeldrank en ’n spoggerige roomyskoek is nie. Terwyl die grootmense natuurlik roomhorinkies en vleispasteitjies saam met die grênd teekoppies en goue teevurkies geniet. Maar wat het jy gedoen om dié twyfelagtige voorreg te verdien?

Ek voel nog altyd dis ’n dag wat aan jou ma gewy moet word, want dis alles sy. Sy wat jou klere agter jou opgetel het, some omgestik het, doek omgeruil het, spoeg op die stukkende knieë gesmeer het, grys hare gekry het oor jou lewensbesluite, en vasgehou het as jy hartseer was.

Maar nou ja, dan hou ons haar paartie op Moedersdag.

Almal dink seker hul ma is die heel beste ma. Ek dink myne is, en ek het g’n idee hoe sy dit alles doen nie, maar ek sê dit nie naastenby genoeg aan haar nie.

Ja, daai foto was op Facebook.

Ja, daai foto was op Facebook.

My ma is ’n “ek is trots”-ma. Sy gee ons soveel liefde ons bloos skoon en wens heimlik ons “prestasies” raak net weg in die agtergrond. Elke Facebook-inskrywing oor een van haar vele kinders (sy is die hoeder van talle) deel sy onbeskaamd.

Maar ná amper 30 jaar van my in haar lewe voel ek: Sy kan maar doen wat sy wil, soveel Facebook-inskrywings maak as wat sy wil. Maar vandag is dit my beurt aan haar hulde te bring – op ’n platform so groot dat sy beslis gaan bloos – maar dan is ons kiets.

Ek is nie ’n ma nie, maar ek is al oud genoeg om ’n ma van drie te wees, soos baie van my klasmaats reeds is. En ek wonder soms oor die emosie wat deur jou are moet vloei as jy drie bloedjies het wat afhanklik is van jou.

My asem raak bietjie dun as ek dink ek moet ’n plan beraam om ’n potplant behoorlik aan die lewe hou, en dan kalmeer die stemmetjie in my agterkop my met die wete: kinders skree, jy sal weet as hulle honger of dors is.

My ma, Anne-Marié Mailovich, is ’n tawwe vrou wat dit nie aldag maklik het nie. Sy is die hoof van ’n kleuterskool en haar roeping is onderwys en om vir kleingoed ’n stewige fondament neer te lê.

Nie net is sy steeds besig om ’n laaitie deur die skoolbanke te jaag nie (hy is nog nie eers klaar met laerskool nie), sy het nog ’n eerstejaardogter op universiteit . . . en intussen het sy reeds twee uitgevrete en hardekop dogters die lewe ingestuur.

Vandag wil ek onvoorwaardelik dankie sê:

  • Vir elke middag se tafels opsê (sy was ’n gekwalifiseerde wiskunde-onderwyseres, maar ek het nie daai gene geërf nie);
  • Vir my boelie om aan elke liewe aktiwiteit op aarde deel te neem (die enigste geboelie was om my op die sportveld te kry, waar ek ook nie haar goue gene gekry het nie);
  • Vir jare en jare se Warmbad (deesdae Bela-Bela) toe ry vir weeklikse dramaklasse (iets wat ek kon doen);
  • Vir die feit dat sy altyd luister (al praat ons politiek en nuus – nie heeltemal haar ding nie);
  • Vir al die raas oor ek eerder wou boeklees as leer (en my Saartjie- of Keurboslaanboek tussen die blaaie van my biologie-boek moes wegsteek);
  • Vir elke keer wat Ma Daddy kon kalm hou as ek dramaties besluit om op my eie na ’n “gevaarlike” bestemming toe te gaan (gewoonlik tot sy groot ontsteltenis);
  • Vir al die oë toeknyp as ek nog iets wou doen;
  • Vir al die Facebook-inskrywings;
  • En vir die lang oproepe as die Bosveld net te ver is.

– Annami Mailovich is die aanlynredakteur van Huisgenoot.