Ivan Zimmermann blog vir oulaas oor sy reis: Dán verstaan jy die kern van die lewe

Die akteur en avonturier Ivan Zimmermann het Sondag 15 Mei 2016 op ’n ekstreme fietstoer vertrek – 145 dae van Beijing tot in Istanboel. In ’n eksklusiewe blogreeks vir Huisgenoot.com deel hy sy fisieke en sielkundige uitdagings. Hier is sy laaste inskrywing van sy toer.

Positiewe denke
Dag 37 tot dag 136
Gorno-Altaysk, Suid-Siberië tot Amasya, Turkye
27 September 13:40

Gorno-Altaysk is ’n mooi dorp in die suide van Rusland. Ná die probleem met my fiets se trap kon ek darem nou ’n dag rus en die gebreekte trap met ’n tweedehandse een vervang wat nie regtig pas nie, maar wat my hopelik na Almaty, die hoofstad van Kazachstan, sal neem.

Ek kon steeds nie glo ’n trap kon op daardie spesifieke plek breek nie. Dit gebeur een keer uit ’n miljoen. En dit het my weer laat dink aan die probleme wat ek al op die eerste dag in China ondervind het: ’n klein ringetjie in die agterwiel wat uit die draad van die skroef gespring het.

Ook iets wat een keer uit ’n miljoen kan gebeur en wat seker verklaar kan word deur die verandering in lugdruk op die vlug van Suid-Afrika na Beijing. Hoe ongelukkig kan ’n mens dan nou wees? Ek gee nie om oor die weer nie; dit is immers iets wat jy nie kan beheer nie, maar ek weet op ’n fisieke vlak het ek goed voorberei vir die ekspedisie en my fiets is ook deeglik gereed gemaak vir die 145 dae.

Ek weet nou daar is ’n groter moontlikheid om dit tot by die oplossing – ’n nuwe trap in Almaty – te maak, maar die onsekerheid hang soos ’n swaard oor my kop.

Van Gorno-Altaysk gaan die ekspedisie verder in ’n noordwestelike rigting Rusland in. Die weer verbeter aansienlik. Eintlik is dit volmaakte weer vir fietsry. Dis nie te warm nie en ook nie te koud nie en die wind is nie te sterk van voor nie.

Maar niks is volmaak op hierdie ekspedisie nie. Een van die groot voordele van die roete deur Rusland is dat ons altyd naby lopende water is. Dis wonderlik omdat ’n mens darem ’n bietjie kan bad ná ’n lang, sweterige dag voor jy in jou slaapsak inkruip. Maar daar is een ander probleem: muskiete.

Die ondraaglikheid van muskiete (en vlieë) is iets wat ek telkemale mee moes vrede maak. En die irritasie van ’n muskiet is meestal in ’n mens se kop en nie net die jeuk nie. Maar dit bring groter probleme as net ’n steekplek en irritasies. Omdat ons meestal in die bos kamp en nou ook langs riviere in die reënseisoen, is daar baie muskiete.

En natuurlik ook geen badkamergeriewe nie. As moedernatuur dus roep, is dit presies dit. Jy en moedernatuur – en jou muskietvriende.

So daar gaan jy, beskut met net jou neus wat uitsteek teen die ongenadige aanval van honderde muskiete, verder die bosse in om ’n privaat hoekie agter ’n bos te vind. Ek sal nie in detail ingaan nie, maar ek het nog nie voorheen ongeveer 50 muskiete op my kaal boude gehad nie.

Die gevolg was dat ’n mens dan deur die dag ’n bietjie trap, ’n bietjie krap en dan weer ’n bietjie trap.
Rusland is mooi en die Altai-gebergtes beslis ’n besoek deur enige avontuurlustige werd.

Van Rusland af is die ekspedisie oor die grens in die noordoostelike deel van Kazachstan. Die langste dag was ook die eerste dag in Kazachstan, met ’n afstand van 193 km. Die langste afstand wat ek al afgelê het op een dag op ’n fiets, was 210 km van Botswana tot in Namibië. Dit was ’n baie plat pad, met die wind van agter. Nou is dit ’n plat pad met die wind reg van voor.

HAPPY BIRTHDAY @rockymountain_za @rockymountainza

A photo posted by Ivan Zimmermann (@ivanzimmermann1) on

En nie ’n briesie nie, maar ’n sterk wind wat jou tot ’n gemiddelde spoed van tussen 10 en 15 km/h beperk. Dit het my 2 uur geneem om die skof te voltooi. Die deel van Kazachstan waardeur ons gery het, het bestaan uit grasvelde en was nie opvallend mooi nie. Dit is ook dan in sulke tye dat jy jou kop moet reghou. ’n Mens dink baie as jy so trap. Daar is immers niks anders om te doen nie. Trap en dink. Dink en trap.

Dit is eers ná Almaty, met sy Europese gevoel, dat ’n mens die berge van Kirgistan kon sien. En dit het my twee dae geneem om by die prag en vryheid van die berge uit te kom.

Ek het ’n nuwe fietstrap in Almaty gekry wat van Suid-Afrika gestuur is. Ook net betyds, want die trap wat nie regtig gepas het nie en waarmee ek nou oor die 1 000 km afgelê het, het alles in die binnekant so vernietig dat ek gelukkig was om sonder probleme in Almaty aan te kom.

Dit was ook dit wat my gemoed gelig en my kop reggekry het. Ek kon weer fokus – ek het positiewe energie gekry.
Die mense van Almaty is wonderlik en geensins soos die land en sy mense in die rolprent Borat uitgebeeld word nie. Ek verstaan nou waarom die fliek in die land verbied is.

Van Kazachstan af is die ekspedisie die gebergtes van Kirgistan in. Die meeste van hierdie berge se spitse was nog vol sneeu en soos ons hoër begin klim het, het die temperature begin daal. Hoër en hoër deur Kirgistan; dae van baie koud kry en baie klim. Elke dag op en af deur die mooiste berge.

Elke keer as ek bo aan ’n pas kom en die uitsig van bo af sien, het ek opnuut besef waarom ek die ekspedisie so geniet. Die harde werk om bo uit te kom en sulke uitsigte te beleef, is die sout werd. Dit is inspirerend om bo-op ’n berg te staan en af te kyk om te sien waar jy begin het en die beloning van absolute bevrediging en vryheid te ervaar.

Ek het eendag gestop om koffie te drink by ’n klein winkeltjie langs die pad. ’n Jong meisie aan die ander kant van die toonbank het my gehelp en terwyl ek nog besig was om te verduidelik waarna ek soek, het sy in goeie Engels met my begin praat.

Ek was verras, want van Beijing af tot nou was daar regtig min mense wat kon Engels praat. En nou, hier in die middel van nêrens, praat ’n jong mens met my in goeie Engels.

Sy het my vertel sy is besig om te studeer en hoe belangrik dit vir haar is om haar te bekwaam in iets en hoe sy dit geniet om te studeer. Op my vraag hoekom sy studeer, het sy net kort en kragtig gesê sy studeer omdat sy graag wil reis en die wêreld wil sien. Miskien was dit die manier waarop sy dit gesê het – dit het my laat dink.

Ná ’n paar dae het ek besef sy verstaan die kern van die lewe goed. En dit gaan oor nuwe ervarings en verandering. Om te reis is om ’n mens se siel te vernuwe; ’n verkwikking van jou lewe. Ek dink nie dit is net as gevolg van wat ’n mens sien nie, maar van hoe reis jou laat voel. Dit gaan nie altyd oor of jy vry is nie. Maar of jy vry voel.

Teen die tyd dat die ekspedisie oor die grens van Tajikistan is, het ons al ’n geruime tyd bo 3 000 m bo seespieël deurgebring. Enigiets bo 3 000 m raak ekstreem en ’n mens se liggaam gaan deur heelwat verandering. Jou eet- en slaappatrone verander en die mees basiese verandering is ’n vinniger hartklop.

Van hierdie punt af beweeg ons net hoër en hoër.

Die wêreldbekende Pamir-hoofweg is ’n uitdaging vir menige fietsryer en dit was lekker om ander fietsryers op hierdie deel van die roete te ontmoet. Almal op ’n tog van ontdekking en vryheid.

Tussen Mongolië en Tajikistan was dit die uitdagendste roete. Rowwe paaie, baie klim en lang, gevaarlike afdraandes.

Tajikistan grens ook aan Afganistan en die twee lande word deur ’n nou rivier geskei. Ons roete het letterlik drie weke lank teen hierdie rivier geloop en die pad was so naby dat ’n mens ’n gesprek met die mense van Afganistan kon voer. ’n Gewone “hallo” is egter geïgnoreer en dikwels was daar ’n gevoel van onveiligheid. Die gevoel is vererger deur die teenwoordigheid van militêre basisse aan albei kante van die rivier.

Maar dat dit enige fietsryer se droom is om op die Pamir-snelweg te ry, is waar en ek kan verstaan waarom. Nie net is dit ’n groot uitdaging om weke lank tussen ’n hoogte van 3 200 m en 4 700 m bo seespieël op slegte grondpaaie te ry nie; dit is asemrowend mooi. ’n Mens is letterlik die hele tyd deur berge omring en hoe wonderlik is dit nie om die vryheid te ervaar van in ’n tent te oornag in sulke omstandighede nie!

Teen die tyd dat ons Oesbekistan ingery het, het ek al ’n geruime tyd geweet my visum vir Turkmenistan is drie keer afgekeur en dat daar geen manier is dat ek die 650 km deur Toerkmenistan sal kan ry nie. Sielkundig was dit vir my ’n groot teleurstelling aangesien my grootste doelwit van die avontuur nou onbereikbaar is – om elke kilometer af te lê en nie een dag uit te sit nie. Die teleurstelling was groot, maar min het ek geweet watter ongelooflike avontuur op my sou wag.

Oesbekistan is ’n droë woestyngebied en dit is waar ek gewens het ons kon teruggaan na Tajikistan se koue temperature. Dit was nou letterlik van die een uiterste na die ander, met temperature wat tot 45 °C gestyg het.

Die warmste waardeur ek al fietsgery het, was deur die Republiek van Soedan met die kwik wat elke dag, ’n week lank, op 50 °C gestaan het. Dit is absoluut ongenadiglik om in sulke hitte te ry en selfs nog meer om met so ’n sweterige, vuil lyf te gaan slaap aangesien daar geen wasgeriewe in die bos is nie – jy kan net ’n “wetwipe-shower” kry.

Sulke hitte put ’n mens uit en dit verg harder konsentreer om op die pad te bly. Dit is ook as gevolg van hierdie uitputting en die afwesigheid van konsentrasie dat ek van die pad afgery en soos ’n sak patats op die teer neergeslaan het.

’n Kort beskrywing: My voorwiel is oor die randjie van die teer en soos ek van die grond weer op die teer probeer kom het, het die voorwiel teen die randjie begin gly.

Die gevolg is ek het beheer verloor en die fiets het my na die anderkant van die pad gegooi. Ek is bo-oor die fiets en het letterlik soos ’n sak sement op die teer tot stilstand gekom. Vir ’n oomblik het ek net daar gelê en probeer voel wat gebreek is. Vyf motors het stilgehou en my probeer ophelp. Ten spyte van die gebrek aan ’n gemeenskaplike taal waarin ons kon kommunikeer, het ek darem water by ’n vrou gekry.

Trots het ek daar gestaan, my wind steeds uit, en soos die toeskouers weggery het, het ek weer gaan sit en besef iets groots is fout. Ek het so 20 minute net daar gesit voor ek weer op die fiets geklim het om die laaste 60 km van die dag te voltooi. Dit is ook toe dat ek besef het ek ’n rib of twee gekraak.

Die vermoede is later deur die ekspedisiedokter bevestig. Die volgende vier weke het ek kwaai pyn en ongemak verduur, maar ek het deurgedruk en besef ek sou tyd kry om te herstel wanneer die ekspedisie deur Turkmenistan ry. Teen hierdie tyd het ons ook vasgestel ek sal Iran toe vlieg en die groep 10 dae later op die grens van Turkmenistan en Iran kry.

Zanjan, Iran. #beijing2istanbul #leadersneverquit @traineessaica @innermation @feesforall @bidvestmcjeep @twftravel @diedamhuis

A photo posted by Ivan Zimmermann (@ivanzimmermann1) on

Hoewel daar nie veel in Oesbekistan is behalwe woestyn nie, was die groot hoogtepunte die dorpe Samarkand en Bukhara. Albei is geskiedkundige dorpe en ryk aan die ware kultuur van Oesbekistan. Daar is asemrowende moskees en geboue wat meer as 2 000 jaar oud is. Uiters indrukwekkend inderdaad. Die laaste keer dat ek so gevoel het oor argitektuur was toe ek deur Egipte getrap en die grafte van die farao’s besoek het.

Van Oesbekistan het ek noodgedwonge Iran toe gevlieg om 10 dae te wag om die groep weer op die grens te kry om dan van oos na wes deur Iran te ry.

Iran is glad nie die beeld wat ons in die media sien nie. Dit is ooglopend sodra jy in Iran is dat die mense as gevolg van godsdiens en politiek onder druk verkeer. Ek moet ook sê as jy nie die mense van Iran beleef nie, is daar nie regtig iets om te ervaar nie.

Ek het nog nooit in my lewe sulke gasvryheid ervaar nie. ’n Mens dink die hele tyd daar is êrens die spreekwoordelike slang in die gras wanneer mense jou help, met jou begin gesels en selfs weier dat jy vir tee of ’n ete betaal.

My eerste ervaring was toe die taxibestuurder om drieuur in die oggend skielik van die snelweg, op pad van die lughawe na Teheran, stilhou om vir my tee te koop om my welkom te heet. En van daar af het dit nooit opgehou nie.

Binne die uitdaging van ’n visum wat afgekeur is, het ek vir myself ’n uitdaging gestel om na die suidelikste punt van Iran te reis en terug na Teheran, die hoofstad, om dan na die ooste te reis om die groep weer te ontmoet. Deur dit te doen, moes ek treinry en bote, taxi’s en ’n bus of twee neem. Om vier oornagtreine te neem en ’n kompartement lank met drie wildvreemde mense te deel, was op ’n manier ’n groter uitdaging as om van Beijing na Istanbul fiets te ry. En die gasvryheid wat daarmee gepaardgaan, was met tye net te veel.

Great feeling entering Turkey.The last country of the expedition.#beijing2istanbul #leadersneverquit www.ivanzimmermann.com

A photo posted by Ivan Zimmermann (@ivanzimmermann1) on

Ek hou van my ruimte. Om wakker gemaak te word deur ’n vreemdeling om te hoor of ek iets wil eet, was uiters ongewoon vir my.

Van die Persiese Golf af is ek terug Teheran toe en het die groep net betyds gekry om weer op die fiets te klim en die vryheid daarvan voort te sit. Iran is ’n ongelooflike land. Die mense maak die land besonders en ek kan dit vir enige reisiger aanbeveel om daarheen te gaan net om die gasvryheid te beleef.

Ek is nou vier dae van Istanbul af. Nie net is my lyf moeg nie; my kop ook. En dalk maak dit dat my lyf selfs moeër is. Ek voel dit is tyd om huis toe te gaan.

Turkye is ongelooflik mooi en die berge in die noorde van hierdie geteisterde land is lieflik. Dit is ’n hoogtepunt om ná vyf maande my avontuur hier af te sluit. Op die oomblik is daar nie baie toeriste in Turkye nie en ’n soort depressie hang oor die land.

#beijing2istanbul #leadersneverquit @traineessaica @feesforall @innermation @twftravel @bidvestmcjeep @diedamhuis

A photo posted by Ivan Zimmermann (@ivanzimmermann1) on

Turkse vlae hang oral om die lojaliteit van die winkeleienaar, vragmotorbestuurder of huiseienaar aan die regering te betoon.

Ek onthou die laaste week van my Kaïro-na-Kaapstad-ekspedisie baie goed. Dit is amper asof dit die moeilikste deel van die hele ekspedisie is.

’n Mens se kop smokkel met jou. So naby en tog nog so ver. Jy het ook te veel tyd om te dink om elke dag, 145 dae lank, so op ’n fiets te sit. Ons dink gemiddeld elke dag aan tussen 800 en 1 600 woorde per minuut. Ek dink dit kan maklik verdubbel wanneer jy so elke dag op jou eie op ’n fiets sit. En hierdie woorde moet alles positief wees, anders maak jy die dae net ondraaglik en word jy deur mislukking in die gesig gestaar.

Tans dink ek aan my eerste braai, Francois van Coke, Gerald Clarke en Bok van Blerk wat speel, ’n glas goeie rooi wyn, goeie geselskap in Afrikaans, my eerste brander op Melkbosstrand, die boek Vlam in die Sneeu wat ek klaar wil lees, en die wedstryd tussen die Springbokke en die All Blacks wat ek op 8 Oktober kan kyk en nie net hoef te stroom op RSG nie. En natuurlik ’n groot bak biltong.

KLIK HIER vir Ivan se vorige blogs.

IVAN SE EKSPEDISIE HET SELFS ’N TEMALIED!

Klik op hierdie logo op Ivan se webtuiste om eksklusief na die temalied Waar Daar ’n Wil Is deur Francois van Coke te luister.

temalied

HOE KAN JY BY IVAN SE INISIATIEWE BETROKKE RAAK?

Ivan gaan met vanjaar se ekspedisie fondse insamel vir LIPCO Law for All se nie-winsgewende maatskappy, Fees for All. Die organisasie spreek studente se finansiële probleme aan deur te help om hulle regte te bevorder vir gelyke geleenthede in hoër onderwys. Die projek se doelwit is om geld in te samel vir tersiêre studies. Die #pledge30 bydraes (R30) kan via sms of Snapscan gemaak word. Lewer hier jou bydrae.

● Volg Ivan op Twitter by @IvanZimmermann1 en op Instagram: IvanZimmerman1. Die regstreekse webuitsending sal ook gevolg kan word via Periscope: @IvanZimmermann.