‘Hoekom is dit so moeilik?’ wonder leser wat soms sy vrou wat meer verdien moet vra vir geld

paartjie


Voel jy ondermyn as ’n man indien jy jou vrou moet vra vir geld omdat jy minder as sy verdien? Een Huisgenoot-leser PG de Jonge skryf in ’n doodeerlike ope brief hoe dit voel as jou vrou ’n groter salaris as jy verdien en jy soms, noodgedwonge, vir vroulief moet vra om ’n ‘lening’.

Dit gebeur elke keer. Soos klokslag. Die kelner kom by die tafel aan met ’n glimlag so groot soos die fooitjie wat hy hoop om te kry. Hy plak die rekening vierkantig voor my neer.

Ek wag dan gewoonlik maar dat die kelner weer loop, voor ek iets doen, want wat gaan volg, is sosiaal onaanvaarbaar. Maar ’n man moet doen wat ’n man moet doen; so ek vat die rekening en, oënskynlik vol selfvertroue, skuif ek dit ongesiens een stoel regs, na waar my vrou sit: Want sy gaan betaal.

Ons leef in ’n wêreld vol verandering. Tussen die ekonomie wat spartel, terreur en die stygende prys van hoender, is daar darem nog ’n paar ligpunte wat ’n mens moed gee. Vroue is byvoorbeeld nie meer tot die huis en die inkopiesentrum beperk nie. Dis ’n klassieke wen-wen-situasie. Die samelewing laat vroue toe om hul drome na te jaag en werkgewers het ’n hele helfte van die mensdom bygekry waaruit hulle sweet en bloed kan tap.

’n Mens kan dit oral sien. Joernaliste het wêreldwyd kopgekrap oor wat Bill Clinton se titel sou wees as Hillary president sou word. Angela Merkel is Time se “persoon” van die jaar. Saoedi-vroue mag werk (dalk mag hulle selfs eendag werk toe bestuur, ook). Ek kan dit by die huis ook sien gebeur: Ek het met ’n skok besef die meeste van die tyd wat ek in die kombuis deurbring, is ek kaalvoet.

Dit klink dalk taamlik rooskleurig, maar daar lê nog ’n lang pad voor. Vroue kry minder geld en aansien as mans vir identiese werk. Seksisme is oral, van morele oordele tot aanstellingspraktyke. Ons is in die middel van ’n groot oorgangsfase waar die oue kwyn en die nuwe groei, en soos met alle groot veranderings sukkel mense om by te hou.

Sien, ek’t ’n wonderlike vrou. Sy is beeldskoon, gedrewe, en beslis slimmer as ek. Sy is ook ’n dokter. As skrywer en filmmaker wat op ’n redelik wispelturige inkomste moet staatmaak, is dit wonderlik om iemand te hê wat ’n stewige maandelikse salaris kan inbring.

Maar hemel, partykeer is dit vreemd. Soos om jou vrou te vra vir geld. Dit verstom my hoe sulke klein goedjies iewers in my brein vasgesteek het. Hoekom is dit vir my moeilik om te vra vir geld? Ek sou GEEN probleem gehad het as die situasie omgekeer was nie. Maar wanneer ek partykeer my banksaldo se ondergang volg, begin ek klaar die ongemak in my voel. Ek begin goed dink soos: “Dis net ’n lening; ek sál haar terugbetaal.”

Honderde jare se patriargie het blykbaar in ons onderbewussyn gaan vassit, soos ’n duiweltjie op ons skouer. Dis simpel, dis kinderagtig, dis beledigend vir vroue, maar die klein bliksem het sy kloue diep ingeslaan. Ek voel hom roer wanneer ek wil verskoning maak dat ek nie vir die uiteet betaal nie, wanneer ek verneder voel dat ek nie die broodwinner is nie, wanneer ek ongemaklik wonder of mense dink ek is ’n slegte man . . .

Dis alles snert. Vroue kan mans uitneem; niks sê dat ek die broodwinner hoef te wees nie. Hoeveel ongelukkige 50’s sitcom-huwelike het ons nodig om te besef geld laat jou nie gekoester voel nie?

Dis seker nou maar die lot van dié wat leef in ’n tyd van verandering. Die verlede kleef aan ons soos ’n vel wat te klein geword het, en ons moet dit stukkie vir stukkie van ons afstroop om plek te maak vir nuwe groei. Dis die klein plekkies wat bly jeuk wat ons wys waar ons nog gister se idees moet loskrap.

Van die beste selfondersoek wat ons kan doen, is om te kyk na dit wat ons ongemaklik maak. Dit geld seksisme, rassisme, leefstyl . . . alles eintlik. Want verandering is ongemaklik en groei maak ’n mens kriewelrig, maar dis al hoe ons vorentoe beweeg.

Selfs al beteken dit dat jy soms ’n kelner se verwarring moet trotseer.