Ware winter tref SA

Die eerste koue weer van die winter is hier en die publiek moet hulle voorberei op koue weerstoestande in die komende dae, het die Suid-Afrikaanse Weerdiens Donderdag gesê.


Die weervoorspeller Lulama Pheme het gesê die land gaan Donderdag en Vrydag sy eerste smakie kry van die ware winter.
“Die koue front is tans oor die sentrale dele van die land.

Dit het reeds die Wes-Kaap, Noord-Kaap en westelike dele van die Oos-Kaap verbygesteek.”

Dié gebiede het Donderdagoggend reën ervaar en sneeu is op hoogliggende plekke verwag.

Die suidwestelike dele van die Noord-Kaap het Donderdagoggend ligte sneeu gekry.

Die Weerdiens het Donderdag waarskuwings uitgereik oor ontwrigtende sneeuval oor die westelike hoë grond van die Wes-Kaap, die suidelike hoë grond van die Noord-Kaap, en die suidelike Drakensberge.

Hoë deinings tussen Hondeklipbaai en Port Alfred word verwag, maar dit sal teen die aand bedaar.

Gauteng, Noordwes, die Vrystaat en KwaZulu-Natal sal teen Donderdagaand de koue begin voel.

Volgens Lulama bring ’n warm noordwestewind in die ooste van die land gewoonlik ’n koue front, soms met wolke.
Snow Report SA het getwiet oor sneeuval op Ceres, Robertson, Matroosberg en Theronsberg in die Wes-Kaap en op Sutherland in die Noord-Kaap.

Die weerdiens het voorspel dat Sutherland, een van die koudste dorpe in die land, se maksimum temperatuur vandag slegs 5 °C gaan wees.

– Sapa