Identiese tweeling wil saam-saam met dieselfde man trou

twee-sussies-en-hul-man


’n Identiese tweeling van Doer Onder wat met die dieselfde man in ’n verhouding is, het bekendgemaak dat albei binnekort saam met hom voor die kansel wil staan.

Anna en Lucy DeCinque, van Perth, Australië, beplan albei om met hul kêrel, Ben Byrne, te trou nadat hulle hom vyf jaar gelede op Facebook ontmoet het.

Die 30-jarige tweeling het bekendheid verwerf toe hulle deur ’n Japannese kanaal aangewys is as die wêreld se bekendste identiese tweeling omdat hulle so eenders lyk dat gesigsherkenningstegnologie nie die twee van mekaar kon onderskei nie.

Anna en Lucy, wat ’n minuut uit mekaar gebore is, het luidens berigte al meer as R2,1 miljoen aan kosmetiese chirurgie bestee om te verseker dat hulle so veel moontlik na mekaar lyk. Die chirurgie wat hulle al ondergaan het, sluit borsvergrotings, lipvullers, kunswenkbroue en -ooghare in.

Nou beplan die sussies om saam met hul aanstaande na Tucson in die Amerikaanse deelstaat Arizona te reis om hul dubbele huweliksbeloftes aan mekaar af te lê.

Arizona se wetgewing verbied poligamie, maar tree nie strafregtelik daarteen op nie.

Die tweeling het die aankondiging op YouTube gedoen en gesê: “Ons is al die afgelope vyf jaar by hom . . . ons wil met dieselfde man trou en sy naam is Ben.”

Die tweeling het vroeër in die media erken hulle albei slaap en stort terselfdertyd saam met Ben.

“Ons is albei altyd op dieselfde tydstip in die bui om saam te slaap. Ben is ’n baie gelukkige man. Hy kort dubbel die energie, maar hy kry twee keer soveel liefde en aandag in ruil daarvoor. Ons kom niemand te na nie en almal is gelukkig. As ’n tweeling gaan ons altyd saam wees; ons is dag en nag deel van mekaar se lewe. Dit maak net sin dat ons dieselfde man deel.”

Ben is ook een van ’n tweeling, maar nie identies nie.

Die tweeling het ook reeds planne vir wanneer hulle met ’n gesin wil begin.

Anna het aan ’n Australiaanse koerant gesê dat haar en Lucy se liggaam altyd dieselfde moet wees. As een van hulle swanger is, moet die ander ook onmiddellik swanger word.

“Ons moet altyd dieselfde lyk,” het sy gesê.

Bronne: mirror.co.uk; dailymail.co.uk