Vrou beplan glo huidige man se huurmoord; vorige man se moordsaak heropen

Foto verskaf (SAPD)

Foto verskaf (SAPD)



’n Vrou wat in hegtenis geneem is nadat sy haar man na bewering in ’n huurmoord wou laat vermoor, word nou ook daarvan verdink dat sy haar vorige man laat vermoor het.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke in Mpumalanga, sê die destydse moord van Allan Hepburn (52) is heropen ná die arrestasie van die vrou, Maria Ferreira (53).

Maria, wat in Ponto de Oura in Mosambiek bly, het Maandagoggend in die landdroshof in Witrivier op aanklagte van sameswering tot moord verskyn nadat sy glo ’n man wou huur om haar huidige eggenoot, Carlos Ferreira (55), te laat vermoor.

Volgens Dineo is Carlos Maria se derde man.

Dineo sê voorts die man wat Maria glo genader het om Carlos te vermoor, was al die tyd eintlik ’n polisiebeampte.

“Sy het nie geweet hy is in die polisie nie,” sê Dineo.

“Sy en haar man was vir die naweek by die vriende in Witrivier. Haar plan was dat haar man Sondag, wanneer hulle op pad terug sou wees na Mosambiek, naby Malelane doodgemaak moes word.”

Maria en die “huurmoordenaar” het mekaar toe na bewering Sondagmiddag ontmoet, waartydens sy na bewering vir hom R500 vir brandstof gegee het en R20 000 om haar man te vermoor. Kort na sy die betaling gemaak het, is sy in hegtenis geneem.

Haar vorige man, Allan, is in 2012 voor sy huis op die Klipeiland-landbouhoewes buite Bronkhorspruit vermoor. Hy was besig om ’n pap band om te ruil toe ’n onbekende hoeveelheid aanvallers hom sewe keer met ’n mes gesteek het.

Niks is by hom gesteel nie en tot vandag toe is niemand weens sy moord in hegtenis geneem nie. Destyds is nog berig hoe sy vrou op sy lyk afgekom het.

“Die ondersoekbeampte in dié saak sê destyds met die moord wou die vrou glad nie saamwerk nie. Sy wou ook nie gehad het die saak moet gefinaliseer word nie,” sê Dineo.

“Ná haar arrestasie (die afgelope naweek) het ons agterdogtig geword en die saak weer ondersoek om te bepaal of dit ook ’n huurmoord was en of dit net ’n aanval was.”

Maria is borgtog geweier en sal weer op 27 Maart in die hof verskyn om ’n formele borgaansoek te bring.