Verlamde matriekseun verstom ten spyte van duik-ongeluk

JG Oosthuizen, die matrikulant van Linden in Johannesburg wat ’n jaar gelede verlam is in ’n fratsongeluk in die see by Mosselbaai, gaan na verwagting vanjaar sy matriek voltooi.

Sy blymoedige ingesteldheid verstom nie net mense om hom nie; hy is ook ’n inspirasie vir baie ander. Sy ma, Ezeth, ’n biokinetikus, sê JG is steeds die opgeruimde mens wat hy altyd was. “In die hospitaal al was hy baie positief. Hy het dit net so maklik vir ons almal gemaak,” het sy gesê.

Sy sê hoewel hul gesin baie optimistiese mense is en haar kinders so grootgemaak is, het hy hulle almal verbaas.

Hy is self nie aldag seker hoekom hy so blymoedig bly nie, sê JG. “Dis seker maar goeie gene.” Hy glo hy kan genees.

“Ek kry baie goed op die internet oor die kanse wat ek het op herstel. As ek weer kan regkom, sal ek nooit weer kla nie en soveel ek kan aan ander mense teruggee,” sê hy.

JG wil “beslis nog iets van my lewe maak”. Eers wou hy biokinetika studeer het, maar sy omstandighede bemoeilik dié rigting nou. Hy vind op die oomblik meer uit oor sportregte, wat behels dat hy ’n regsverteenwoordiger vir sportlui sal wees.

In Desember het Ryan van der Walt op die Facebook-blad Staan Saam vir JG gesê JG is die mees inspirerende mens wat hy al gesien het. Dit was ná ’n insetsel op eNuus.

“Al wat ek vir jou kan sê is, jy is briljant en ek hoop en bid dat jou storie ’n verandering in baie mense se lewe sal maak.”

Ezeth sê JG het nog altyd gesê hy wil iets beteken en sy merk maak.

Ná die ongeluk kon hy nie sy matriekjaar, soos beplan, verlede jaar aan die Hoërskool Linden aanpak nie. Hy sal vanjaar na verwagting deur My Tutor and Teaching Centre sy skoolloopbaan voltooi. Dié sentrum onderrig leerders van gr. 1 tot 12 met die hoofklem op tuisonderrig. Hy gaan op 17 Januarie ’n ope dag by die sentrum bywoon.

JG het verlam geraak toe sy rugstring beseer is nadat hy in die see geduik en vermoedelik ’n sandbank getref het. As ’n C5-kwadrupleeg is hy van sy skouers af ondertoe verlam.