TV vandag 40 jaar in SA

Televisie in Suid-Afrika is vandag 40 jaar oud.


Die SAUK se TV-diens herdenk vier dekades sedert die eerste landwye uitsending op 5 Januarie 1976 toe Dorianne Berry en Heinrich Marnitz kykers by die “openingsaand” van televisie in die land verwelkom het.

Die SAUK se televisie-aanbiedings het die afgelope vier dekades verskeie kanaalrangskikkings ervaar. Suid-Afrika se openbare uitsaaier het nou vyf kanale: SABC1, SABC2, SABC3 en SABC News en die kanaal SABC Encore, wat eksklusief vir MultiChoice se DStv satelliet-betaaltelevisieplatform vervaardig word.

Lees ook: 40 jaar later – ’n Terugblik na TV se babatreë

Betaaltelevisie is ook in die afgelope vier dekades in Suid-Afrika bekendgestel – die uitsaaier M-Net (wat in Oktober 30 word), MultiChoice se DStv en StarTimes Media SA se StarSat.

Dienste soos Platco Digital se OpenView HD-satellietdiens, tesame met ’n oorvloed video-op-aanvraag- (VOD) dienste soos Naspers se Showmax, Times Media se VIDI, MTN se VU en PCCW Global se ONTAPtv.com verbeter die verbruiker se keuse in Suid-Afrika se groeiende videosfeer.

Intussen het die wêreldwye stroomdiens Netflix aan Channel24 gesê dit gaan voor einde vanjaar in Suid-Afrika beskikbaar wees.

Dié mylpale kom in ’n tyd dat die SAUK, wat TV in Suid-Afrika bekendgestel het, van een krisis na die volgende strompel.

Die SAUK vier nie net die 40-jarige herdenking van sy eerste nasionale televisie-uitsending vanaf Auckland Park – kompleet met ateljeegordyne en in kleur – nie, maar die mylpaal is uiters betekenisvol omdat die Suid-Afrikaanse televisiebedryf op die randjie is van die grootste veranderings sedert televisie bekendgestel is.

In 2016 moet die langverwagte oorskakeling van analoog na digitale televisie in Suid-Afrika begin nadat die land die sperdatum misgeloop het waarop daar op internasionale vlak ooreengekom is om analoog televisieseine teen Junie 2015 af te skakel.

Bron: Channel24

Lees ook: Ignoreer jou maat jou as julle TV kyk?

Lees ook: Is hierdie die hartseerste TV-advertensie ooit?