Skokvideo wys hoe seun sy 83-jarige ma boelie

In April verlede jaar het die 83-jarige Henna Scholtz wonderbaarlik ’n fratsongeluk by haar huis op Kleinmond in die Suidwes-Kaap oorleef.

Sy het haar bewussyn verloor toe sy haar veiligheidshek vir haar buurvrou wou oopsluit. Met haar val het een van die skerp penne in die hek Henna se ken deurboor.

Die dokter het gesê as die pen haar ken ’n bietjie meer na links of regs binnegegaan en ’n groot aar getref het, was sy moontlik op slag dood. Maar sy het dit oorleef.

Die skokfoto’s van haar wat in ’n ongemaklike posisie aan die hek hang voordat paramedici haar kon loskry, het mense na hul asem laat snak.

Nou doen ’n skokkende video van haar weer eens die ronde. Daarin het haar seun, Johan Scholtz (56), harde woorde met haar, terwyl die uitgeteerde Henna oënskynlik vreesbevange op haar bed opkyk na hom.

Hy gryp haar suurstofmasker uit haar hand en gooi dit eenkant. In ’n stadium sê hy: “Jy moet vir my baie mooi hoor; ek vermoor jou vanaand . . .”

Dis onbekend wie die video opgeneem het.

WAARSKUWING: DIE VIDEO KAN SENSITIEWE KYKERS ONTSTEL EN BEVAT BAIE KRU TAAL

Sy ma ly aan demensie, vertel Johan uit Bloemfontein, waar Henna sedert November verlede jaar by hom inwoon. “Ek is baie jammer ek het so opgetree,” sê hy oor die foon. Hy erken sy woorde in die video klink onbehoorlik, maar wat nie daarop gesien kan word nie, is die beweerde uittarting van sy ma wat glo nie tevrede is met die sorg nie.

“Ek het die onkoste aangegaan om hier by my na haar om te sien. Ek sal haar alles in die lewe gee, maar ek kry geen samewerking nie. Sy lyk soos ’n geraamte. Ons het hulp ingekry om haar vinnig gewig te laat aansit,” voeg Johan by.

Luister ’n mens so na hom, hoor jy die frustrasie van iemand wat ‘n demensielyer versorg. “Dis my ma; ek gee om vir haar,” hou hy vol.

Maar hy erken dis nie aldag maklik nie.

Sy het glo nou die oggend drie-uur sy kamerlig aangeskakel en oor sy gesig gevryf. “Sy is gerieflik hier by my en is gelukkig. Sy wil nie hier weggaan nie,” sê hy beslis.

Dis hoekom sy nie gistermiddag op die lughawe was om Kaap toe te vlieg nie, sê Johan.

“Ons het ons bes gedoen om haar daar weg te kry,” vertel die 87-jarige Hannes Louw, Henna se broer en woordvoerder vir die familie.

Hy het die vliegtuigkaartjie vir haar gekoop en het saam met die res van die familie vir haar plek in ’n ouetehuis in die Paarl gekry.

’n Familielid het die video aan hom gestuur. Hy was baie geskok. Dieselfde familielid het hom glo al voorheen gebel en vertel Johan vloek en skree op sy ma.

Hannes het die maatskaplike dienste se hulp ontbied om seker te maak sy word goed versorg. Hy het Johan ook al gewaarsku as hy sy suster slaan, sal hy die polisie ontbied. Hannes sê hy sal geen koste ontsien om seker te maak sy suster kry die sorg wat sy nodig het nie.

Hy vertel sedert haar man, Pieter Scholtz, nege jaar gelede in sy 80’s oorlede is en haar seun, Theo, op 56 weens diabetes gesterf het, was sy nie meer haarself nie en het “uitgehaak”.

“Sy sou snags gil, maar het die laaste paar jaar reggekom,” voeg hy by. Hy en die res van die familie sit nou hande in die hare weens bekommernis oor haar, sê hy.

Intussen hou Johan vol hy sien goed na sy ma om. Sy twee dogters sit ook hand by. Hy het regsadvies ingewin om vas te stel wie die video gemaak en versprei het, vertel Johan.

“Die video lyk erger as wat dit is. Net iemand wat dit al beleef het, sal die frustrasie verstaan om na iemand met demensie om te sien,” voeg hy by.

Destyds, ná die fratsongeluk, het byna die hele straat en nooddienste hulle na haar huis gehaas om Henna te probeer help, het sy begin verlede jaar aan Huisgenoot vertel.

“Dit kon soveel erger gewees het en ek is so dankbaar.” Sy kon skaars uitgepraat raak oor haar wonderlike bure, vriende en geliefdes wat haar so mooi bygestaan het.

“Ek wens . . . ek kan vir almal wys hoe my hart oorloop van dankbaarheid. Ek het regtig die wonderlikste bure in die straat,” het Henna toe vertel. “Ek sal nooit ooit uit Kleinmond trek nie.”