Pretoriase skole se dringende hofaansoek teen onderwysdepartement misluk

krugerstandbeeld_kerkplein_a_pretoria


Die Hoërskole Overkruin en Montana in die noorde van Pretoria moet by hul standpunt bly, want ‘n mens moet kyk na wat in die beste belang van die skoolkind is.

So sê Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie vir Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

Dit volg nadat die dringende hofaansoek van dié twee skole teen die Gautengse onderwysdepartement Woensdagoggend van die hofrol geskrap is.

Die Hoërskole Overkruin en Montana wou met die hofaansoek die departement keer om hulle te dwing om meer gr. 8-leerders in te neem as waarvoor hulle plek het.

Al is albei skole se voertaal Afrikaans, het hulle enkele jare gelede aangebied om ’n Engelse klas per graad in te voer op aandrang van Engelse ouers en die departement.

“Hierdie twee skole is reeds oorvol en kan eenvoudig nie meer kinders inneem nie,” sê Paul.

“Overkruin het net plek vir 250 gr. 8’s, maar hulle het reeds 298 ingeneem. Montana kan net 245 gr. 8’s akkommodeer, maar het nou 340.”

Die Gautengse onderwysdepartement wil die twee skole dwing om nog ekstra Engelse leerders toe te laat, maar die skole wou die departement met die hofbevel keer.

Toe regter Moses Mavundla Woensdagoggend die dringende hofbevel skrap, het hy gesê die skole het die departement nie genoeg tyd gegun  om ‘n kennisgewing in te dien dat hy die saak gaan teenstaan nie.

Dit beteken egter nie die saak kan nie in die toekoms weer op die hofrol geplaas word nie, verduidelik Paul.

Hy sê dit skep geweldige risiko’s vir die leerders wanneer meer ingeneem word as wat die infrastruktuur toelaat. “Dink maar net aan praktiese dinge soos toiletgeriewe en oorvol klaskamers.”

Daar is wel ‘n Engelsmediumskool in die omgewing, Montana Park High School, maar Engelssprekende ouers verkies blykbaar om hul kinders in die twee Afrikaanse skole te plaas waar hulle in ekstra Engelse klasse geakkommodeer moet word.

Paul sê hy hoor die ouers kla oor die onderwysstandaard van die Engelse skool.