Ouma oorleef wonderbaarlik ná sy deur veiligheidshek se spitspen deurboor word

WAARSKUWING: HIERDIE ARTIKEL BEVAT GRAFIESE FOTO’S

As die veiligheidshek se spitspen haar net ’n bietjie meer na links of regs onder die ken deurboor het, was sy vandag dalk nie meer met ons nie, gesels Henna Scholtz uit Kleinmond in die Suidwes-Kaap.

Henna Scholtz (83) het haar bewussyn verloor tydens 'n fratsongeluk in Kleinmond. Foto: Verskaf

Henna Scholtz (83) het haar bewussyn verloor tydens ‘n fratsongeluk in Kleinmond. Foto: Verskaf

Dié 83-jarige pensioentrekker het verlede week wonderbaarlik ’n fratsongeluk oorleef.

Dokters meen die pen wat deur haar ken is, het so byna ’n groot aar getref; sy het haar lewe aan ’n paar millimeters te danke.

“Dit is baie seer en ek is baie ongemaklik,” vertel Henna en verduidelik hoe sy haar bewussyn verloor het toe sy die veiligheidshek by haar voordeur vir haar buurvrou Beatrix Muller wou oopsluit.

Lees ook: Kyk: Grafiese advertensies skep bewusmaking oor die gevare van te veel suiker

Beatrix kom wens Henna gewoonlik elke aand ’n geseënde nagrus toe en Henna was baie opgewonde om haar vriendin te sien, want Beatrix het die voorafgaande twee maande by haar kinders in Engeland gekuier.

“Sy maak altyd so ’n lawaai en toe spot ek met haar oor of dit nou die tyd is om hier aan te kom. Ek moes seker flou geval het, want toe land ek bo-op die hek. Beatrix sê ek was spierwit en het glad nie ’n pols gehad nie,” verduidelik Henna.

Foto: Verskaf

Henna het haar bewussyn verloor. Foto: Verskaf

Beatrix het hulp ontbied en byna die hele straat en nooddienste het hulle na haar huis gehaas om Henna te probeer help.

“Dit kon soveel erger gewees het en ek is so dankbaar. Ek het veral seergekry toe die paramedici my probeer uitlig; ek het gehoor hulle oorweeg dit om my ken oop te sny, maar hulle kon my darem loskry,” gesels Henna.

Lees ook: Wanhopige ouma se ope brief: ‘Help! My kleinkind is ’n bedorwe brok!’

“Ek weet ongelukkig glad nie hoe lank dit gevat het om my los te kry nie; hulle het kussings ook gebring sodat ek gemakliker sou wees, want ek het aan die hek gehang.”

Sedertdien sterk Henna tuis aan en sy kan nie uitgepraat raak oor haar wonderlike bure, vriende en geliefdes wat haar so mooi bystaan nie.

Foto: Verskaf

Hanna sterk tans aan na die voorval. Foto: Verskaf

“Ek wens . . . ek kan vir almal wys hoe my hart oorloop van dankbaarheid. Ek het regtig die wonderlikste bure in die straat.

“Ek sal nooit ooit uit Kleinmond trek nie.”

– Almari Wessels

Ander stories op Huisgenoot.com:

Is dit dalk beter om bles te wees?
‘Sy’t ja gesê!’: Geliefde akteur het die skoot omtrent hoog deur ná verlowing
Kyk: Kettingbotsing in China laat hoofweg soos ’n skrootwerf-nagmerrie lyk
Eksklusief: Ontmoet Koekedoor 2 se tien nuwe deelnemers