Nóg afgryslike besonderhede oor Springs se ‘huis van gruwels’ kom aan die lig

springs-monster


’n Ma wat saam met haar man aangekla word dat hulle hul vyf kinders erg mishandel en verwaarloos het, kon tussen reg en verkeerd onderskei toe sy die beweerde dade in die sogenaamde gruwelhuis in Springs gepleeg het.

Drie psigiatriese verslae is Maandagoggend tydens dié egpaar se voortgesette verhoor in die hooggeregshof in Pretoria ingehandig.

Die verslae is opgestel nadat die vrou vir 30 dae se waarneming in die Weskoppies-psigiatriese hospitaal in Pretoria opgeneem is.

Die ma het Maandag begin getuig oor wat na bewering in die berugte huis plaasgevind het. Die paartjie se beweerde gruweldade het in Mei 2014 aan die lig gekom nadat hul oudste seun, wat nou 13 jaar oud is, na die bure gevlug het. Hul oudste dogter is nou 18 en die jongste van die egpaar se vyf kinders is nou vier jaar oud.

Die ouers mag nie geïdentifiseer word nie om die minderjarige kinders se identiteit te beskerm.

Die kinders se pa staan tereg op 22 klagtes terwyl die ma van 20 klagtes beskuldig word. Dit sluit onder meer verkragting, kinderverwaarlosing, dwelmbesit en dwelmhandel in.

Die pa het op al die aanklagte teen hom onskuldig gepleit behalwe die klag wat verband hou met die feit dat hy die polisie verhinder het in die uitvoering van hul pligte toe hulle in Mei 2014 na sy seun gesoek het. Die vrou het op al die aanklagte teen haar onskuldig gepleit.

Die ma het Maandagoggend getuig daar was nooit enige kos in die huis nie. As daar die dag was, het haar man dit toegesluit en moes hulle hom vir kos vra.


Hy sou koue vleis en worsies in die yskas in hul kamer hou en nie met die kinders deel nie. Die kinders het meestal van wegneemetes geleef, want hul pa het nie daarvan gehou as hul ma kosmaak nie. Die dag as sy kos maak, het sy dit op ’n klein stofie in haar kamer gedoen.

Sy het nooit in die kombuis kos gemaak nie.

Die ma het glo ook nooit die huis skoongemaak nie. Volgens haar was dit omdat haar man haar nooit tyd gegee het om dit te doen nie. Die huis was na wat berig word baie vuil.

Sy het getuig haar man het hul twee oudste kinders elke dag aangerand. Sy het vertel hoe hulle gedreig is met ’n blaasvlam en ’n sambok en geskiet is met ’n windbuks. As sy probeer het om hom te keer, is sy glo ook aangerand.


Die kinders se pa het 37 kameras op die erf geinstalleer om die familie dop te hou as hy nie tuis was nie. As die kinders iets teen sy wense gedoen het, het hy hulle geslaan, het sy getuig.

As die ma geweier het om seks met haar man te hê, is sy geboei en geslaan. Hy het haar glo ook soos ’n prostituut laat aantrek.

Die huis is ook na bewering vir prostitusie en dwelmhandel gebruik.


Die ma het verder gesê sy is nie toegelaat om ooit iewers heen te gaan sonder haar man nie. Haar man het ook nie die kinders toegelaat om skool toe te gaan nie.

Die verhoor duur voort.

Bykomende bron: The Citizen