Stellenbosch-mesmoord: Nóg gru-besonderhede kom aan die lig

paradyskloof


Die koelbloedige moord op Marie Verwey (80) het skokgolwe deur Stellenbosch gestuur.

Marie, ’n weduwee wat net met behulp van ’n loopraam kon loop, is Donderdag vroegmiddag dood in haar stoel gevind.

Sy is herhaaldelik met ’n skerp voorwerp gesteek en het meer as 10 steekwonde gehad. Agt daarvan was in haar nek. Haar keel is glo ook amper afgesny.

Marie was die eienaar van ’n bekende gastehuis op die dorp. Haar buurman het gister omstreeks 12:30 op haar bebloede lyk afgekom.

Haar huishoudster was na wat verneem word by die winkel toe die moord gepleeg is. Toe sy terugkom, was die voordeur glo gesluit.

Sy het na die agterkant van die huis geloop en gesien die agterdeur en veiligheidshek staan oop. Sy het die buurman geroep, wat op Marie se lyk afgekom en die polisie ontbied het.

Marie se jongste seun. Francois, het saam haar in die gastehuis gewoon.

Die moord is deur kapt. Frederick van Wyk, ’n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, bevestig. Hy het gesê die omstandighede rondom Marie se dood word nog ondersoek.