Man maak hart oop ná sy swanger vrou deur 11 mans verkrag word

’n 22-jarige swanger vrou is erg getraumatiseerd na sy deur 11 mans aangeval en verkrag is.

Foto ter illustrasie (wikimedia.org)

Foto ter illustrasie (wikimedia.org)

Die voorval het Maandagoggend omstreeks 05:00 in Hillbrow, Johannesburg, enkele meters van die vrou se huis, plaasgevind toe sy en ’n manlike kollega op pad huistoe was.

Die vrou is drie maande swanger.

Sy en haar kollega was glo deur die groep genader en aangerand. Hulle het haar daarna weggesleep na ’n verlate gebou.

Die mans het toe na bewering tou gestaan om die vrou te verkrag.

Haar kollega het dit reggekry om te ontsnap en het onmiddellik die polisie in kennis gestel. Die polisie het vinnig reageer en was binne minute op die toneel waarna die 11 mans gearresteer is.

Hulle het Dinsdag, 17 Mei, op aanklagte van ontvoering, verkragting, aanranding en gewapende roof in die hof verskyn.

In ’n onderhoud met die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) sê die vrou se man dat verkragting so erg is dat dit nie net vrouens affekteer nie, maar ook hul mans.

”Ons is ’n jong paartjie en het sielkundige hulp nodig. Ek weet nie hoe ons hierdie situasie gaan hanteer nie, maar wat ek wel weet is dat sy my nou die nodigste het. Hierdie kriminele moet agter tralies kom want dis waar hulle hoort,” sê hy.

Die verdagtes sal na verwagting weer 24 Mei 2017 in die hof verskyn.

Kyk hier die video waarin die vrou se man met die SAUK gesels:

Bronne: SAUK, Daily Sun, Youtube