Kyk: Chaos toe stofstorm Vanrhynsdorp tref

’n Woeste sandstorm het inwoners van Vanrhynsdorp in die Wes-Kaap Dinsdag onkant gevang.

Die storm was van korte duur, maar dit het dakke afgeruk en groot bome op die dorp in die noordweste van die provinsie omgewaai.

“Op die Vredendal-pad is ’n groot boom omgewaai, wat so ‘n bietjie die verkeer ontwrig het, maar darem nie te erg nie,” het adj. Christie Esterhuizen van die plaaslike polisiekantoor aan Huisgenoot gesê. “Die polisie is na geen voorvalle ontbied nie en niemand is beseer nie.”

Maar volgens Christie is takke van bome afgeruk en het bome ook plek-plek op huise se dak geval.

“Die dorp is vandag betreklik skoon. Maar hier ry nog kort-kort mense met bakkies verby soos hulle takke wegry. Dit alles het binne omtrent ’n halfuur gebeur.”

Danie Basson het dié video van die sandstorm op Facebook gedeel.

Inwoners van die dorp het ook foto’s van die skade gedeel.

Volgens Christie word daar sowat een keer ’n jaar ’n boom in dié dorp omgewaai.

“Ons het natuurlik groot geskrik. Dit was tot nou toe die ergste skade. Ons het nog nie soveel skade gehad nie. Maar die wind het darem ook gepaardgegaan met ‘n bietjie reën, wat ons verskriklik nodig het!”

Hy sê die stof het ook gesorg dat mense vandag deeglik moes afstof en skoonmaak.