‘Die nagmerrie hou net aan en aan’ – pa deel hartseer ná fratsongeluk sy twee seuns se lewens eis

Foto's: Verskaf

Foto's: Verskaf



“Dit voel soos ’n nagmerrie,” sê Johnny Adams nadat albei sy seuns, Lamuel (12) en Samuel (7), in ’n fratsongeluk waarby ’n koedoe betrokke was, in die Noord-Kaap oorlede is.

Johnny (42) en sy kinders, Afeni (16), Lamuel, Samuel en Casey Lee Bosman (22, sy dogter uit ’n vorige verhouding), was op 11 Mei op pad van Eersterust in Pretoria-Oos na Marydale in die Noord-Kaap om hul ma, Jennifer (43), vir Moedersdag te verras.

Op die Prieska-pad in die Noord-Kaap het ’n koedoe voor hulle motor ingeloop. Die voertuig het van die pad gery en omgeslaan. Lamuel is op die toneel dood en Samuel vier dae later in ’n hospitaal in Kimberley. Afeni en Casey Lee het ligte beserings opgedoen.

“Die nagmerrie hou net aan en aan, selfs deur die dag,” het die gebroke pa aan Huisgenoot.com vertel oor sy seuns se tragiese dood.

“Ons dogters sukkel om die seuns se dood te verwerk,” vertel Johnny ’n dag voor die begrafnis.

Hy sê die steun van vriende en familie het hom deur hierdie moeilike tyd gedra en dat hy in sy geloof troos vind.

“Elke mens het ’n goeie tyd en ’n slegte tyd in hul lewe. Ons moet leer om hul dood te aanvaar en weer heel te word.”

Huldeblyke

“Jou plekkie in my klas is leeg,” lees ’n briefie van Samuel se gr.2-onderwyseres, Abigail Torres, van die Laerskool Nantes in Eersterust. Lamuel was ook daar op skool.

koedoe5

“Ek is baj (baie) liev(f) vir jou,” het een van Samuel se gr.2-maatjies in ’n wolkie vir hom geskryf. Elke maatjie het sy eie boodskappie self in die wolkie geskryf en met hartjies en blomme versier.

koedoe3

“Liewe Samuel my maatjie, ek is baaie hartseer omdat jy weg is. Samuel, jy is nou inne beetr plek,” is deur ’n ander klasmaat geskryf. Die meeste boodskappe vertel hoe lief hulle vir Samuel is en hoe hulle na hom gaan verlang.

koedoe2

Die gr.7-klas het hul hartseer in gedigte en versierde briewe gedeel. Lamuel se onderwyseres, Desiree Tombisa, het hom as “dinamiet” beskryf en gesê dit kom gewoonlik in klein verpakkings voor. “Hy was die kortste seun in my klas, skerp en ’n regte grapjas. Hy was ’n gelowige kind.”

koedoe4

’n Gedig wat deur ’n klasmaat geskryf is, het Lamuel as die lig in die donker beskryf. ’n Ander klasmaat het hom gevra om vir hulle in die hemel rose te pluk. Sy maats beskryf hom as ’n goeie sokkerspeler en sanger wat altyd die klasmaats vermaak het. “Liewe Lamuel. Mag jou siel in vrede rus. Ons sal na jou verlang. Jy sal altyd in ons harte bly.”

koedoe1

‘Geen heinings’

Kapt. Karen du Plessis van die plaaslike polisiekantoor op Prieska het die fratsongeluk bevestig, maar kon nie verder daaroor uitbrei nie.

“Dit is ’n gevaarlike pad waar gereeld ongelukke plaasvind. Daar is ook nie heinings wat die wild afsper nie.”

Begrafnis

Samuel en Lamuel se roudiens word op 20 Mei om halfagt in die Marydale-gemeenskapsaal gehou. Albei seuns sal in Marydale begrawe word.