Bruide, let op! Wanneer moet jy jou trourok begin soek?

Bruide vra my altyd: “Hoe lank voor my troudag moet ek begin om my droomtrourok te soek?” Vir my as ontwerper is daar net een antwoord: sodra daai ring aan jou vinger is! Hier is ’n paar wenke om vroegtydig jou rok te kry.

Corine du Toit van Egoli-faam met haar trourok wat maande vooruit beplan is saam met Diaan. Foto: Fanie Nel

Corine du Toit van Egoli-faam met haar trourok wat maande vooruit beplan is saam met Diaan.
Foto: Fanie Nel

  • As jy besluit om ’n rok te laat maak, raai ek jou aan om tussen 6 en 12 maande voor jou troue die ontwerper van jou keuse te besoek. Bekende ontwerpers is gewoonlik vol bespreek; dus moet jy so gou as moontlik ’n datum bevestig.
  • Jy is dalk nie braaf genoeg om jou trourok te laat maak nie en wil dit invoer. Die tydgleuf hiervoor is gewoonlik enigiets tussen 4 en 6 maande, maar dit hang natuurlik van die bruidshuis af. Bruide moet gereeld met die bruidshuis opvolg nadat die bestelling geplaas is om sodoende enige foute te vermy.
  • Ek gee keuses vir die bruid om van te kies (my eie ready-to-wear trourok-reeks om die bruid se keuse makliker te maak of ons kan iets spesiaal vir jou ontwerp). As jy en jou verloofde al geruime tyd saam is en so gou as moontlik wil trou, kan jy sommer ’n rok van die rak af kies en net verstellings doen wat min of meer 2 tot 3 weke neem om klaar te maak. Dit is natuurlik as ons of enige ander bruidshuis jou kleur, grootte en styl op die rak beskikbaar het.
  • As jy jou keuse maande voor die tyd gemaak het, moet jy ophou na prentjies op Pinterest kyk sodat jy nie jou rok heeltyd wil verander of daarin twyfel nie. ’n Trourok is nie soos alledaagse modeklere waar neigings te veel verander nie. Solank jy nie pofmoue dra soos in die 80’s nie, is jy veilig. Maak seker jy kies wat by jou lyf, persoonlikheid en tema pas.
  • Jy luister na my raad en begin vroeg rok soek, maar waarnatoe nou? Soos ek in een van my vorige blogs genoem het, moet jy altyd verwysings, google en raad volg van familie of vriende se ervarings by ’n spesifieke ontwerper of bruidshuis. Dit help nie jy begin vroeg soek en jou rok is ’n dag voor jou troudag eers gereed nie. Ek dink nie jou familie of verloofde het daardie tipe senuwees om met jou te cope ’n dag voor die tyd nie.
  • Al begin jy vroegtydig, sou ek nie aanbeveel jy gaan na te veel ontwerpers of bruidshuise nie. Kies jou topdrie-ontwerpers en -bruidshuise. As jy te veel opsies het en te veel rokke aanpas, kan dit oorweldigend raak en jou keuse bemoeilik. As jy ná die derde besoek nog nie iets gekry het nie, beteken dit ’n ontwerper van ’n ander wêreld moet spesiaal vir jou rok van Mars af ontwerp.

As jy vroegtydig met jou rok se beplanning begin, maak dit die proses vir jou en die ontwerper makliker om rond te speel met idees om jou perfekte rok te skep.

Al het ek gesê jy moenie jou besluit verander nadat jy een gemaak het nie, weet ek en al die ontwerpers wat met bruide werk daar gaan dalk wel klein aanpassings moet wees.

As jy jou rok invoer, wil jy seker maak die rok is minstens twee maande voor die tyd in die land, sodat julle tyd het om dit te verander as daar ’n probleem opduik.

Dit verg baie tyd en beplanning om jou droomtrourok spesiaal vir jou te laat maak en seker te wees jy is tevrede met jou keuse. Onthou, jy is nie die enigste bruid wat die ontwerper of bruidshuis het nie.

Gee jou ontwerper die ruimte om gedurende jou passings veranderings aan te bring, want as ons met jou droomrok begin, is dit soos ’n kunswerk, en enige veranderings behoort net vir die beste te wees.

Ons as ontwerpers wil ook spog met ons werk sodat ons etiket met trots binne jou rok kan pryk. Dus, luister en droom saam met ons.

Van asemrowende trourokke, tot volgende week!

– DD