Bekendes se inspirasie vir die nuwe jaar en vir ‘n nuwe jy

DIE nuwe jaar is ’n tyd van nuwe voornemens, oorbegin en positief wees. Kortom, dis die rede om ’n “nuwe jy” te word.

En waar beter om inspirasie en motivering te kry as by die mense wat ons elke dag op TV, in tydskrifte of op verhoë sien? Bekendes is tog die mense na wie ons opkyk.

Ons het inspirasie vir die nuwe jaar gaan soek by ’n paar bekendes wat onlangs ’n boek uitgereik het. En gaan hoor wat die boodskap is wat hulle wil oordra.

Lindie Strydom, aktrise, TV-aanbieder, omroeper, motiveringspreker

FOTO: Facebook

FOTO: Facebook

Op Soek na God se Hart

Op Soek na God se Hart is Lindie se eerste boek. “’n Mens stoei maar met vrae soos wie is ek as doodgewone dissipel om ander iets te wil leer? Maar dit voel of die Here juis my ‘gewoonheid’ en gebrek aan opleiding gebruik om te wys elkeen van ons kan iets van sy Vaderhart ontdek.”

Sy het ’n paar jaar aan die boek geskryf en laat saans of soggens vroeg geskryf. Die boek bestaan uit sewe hoofstukke en ’n omvattende beskrywing van haar lewe. Lindie sê sy het ontdek die eindpunt is nie om jou hart vir die Here te gee nie. “Dis net die begin. Daarna volg ’n leeftyd en ’n ewigheid van ontdekking van sy hart.”

Die kern van die boek is haar ontdekking en hoe sy God elke dag opnuut deur haar dagtake vind.

“Ek ontdek sy hart terwyl ek Hom dien en doen wat gedoen moet word by my werk, by my kerk, by my kinders se skool en langs die sportveld, by die huis – in gewone dinge. Ek ontdek sy hart soos ek die lewe as ’n gawe van God geniet.” En dis ook wat sy hoop lesers sal ontdek.

Die boek is soos ’n “fotoalbum van ’n hele klomp kosbare oomblike saam met die Here”.

Vicki Fourie, voormalige Mej. Dowe Suid-Afrika

FOTO: Facebook

FOTO: Facebook

God Lief My Dagstukkies

Vicki se boek, met ’n daaglikse Bybelvers en boodskap, is spesiaal vir tienermeisies geskryf.

Vicki was ’n eensame tiener en voel doorom sy praat hul taal. “Ek sou pouses alleen in die badkamer sit met my toebroodjie en leesboek. Ek het gedink ek is die enigste een wat deur so iets gaan. Daardie jaar het ek as 14-jarige die dagstukkie boek Power to Soar deur Charles Slagle deurgewerk. Iets in my het verander. My omstandighede was steeds dieselfde, maar ek was besig om te verander.”

Nadat sy die Mej. Dowe SA-titel gewen het, het sy onder meer by skole as motiveringspreker opgetree. “Ek het agtergekom ek was nie al wat gesukkel het met eensaamheid nie.”

Die idee vir die boek het vorm aangeneem en sy het God Lief My binne vier dae geskryf. Vicki het 25 belangrike temas uitgeken waarmee sy op skool geworstel het. “Ek het al die onderwerpe in die Bybel gekry. Dis dinge soos vrees, vriendskap, vergifnis, respek, vermaak, talente, seksualiteit en hoop. As ek die boek in een woord moet opsom, sou dit wees: opbouend.”

Een van die sterkste boodskappe in die boek is om jou identiteit by God te soek en nie na verkeerde stemme te luister nie.

Heinz Winckler, sanger

FOTO: Facebook

FOTO: Facebook

In Ritme met God

Die idee vir die boek het ontstaan toe die Christelike Uitgewersmaatskappy Heinz en sy vrou, Aletté, in 2012 nader om saam ’n boek te skryf. “Teen die einde van die gesprek was dit duidelik dat ek en Aletté onderskeidelik elkeen ’n boek binne-in ons het.”

Aletté se boek, Môre Is Maandag, is reeds uitgereik en Heinz se boek is binnekort op die rakke. “Dis ’n getuienisgebaseerde boek gemik op jong Afrikaanse mans oor die reis tot die ontdekking van jou identiteit en hoe om dit prakties uit te leef.”

Hy was 16 toe hy bekeer is en sedertdien is die onderwerp van identiteit vir hom ’n groot passie. “Ek glo elkeen van ons het ’n lewensboodskap; ’n tema of onderwerp uit God se woord wat vir ons ekstra na aan die hart lê. Vir my is dit identiteit en roeping.”

Heinz gebruik die temas van gebrokenheid, harde lesse wat hy geleer het en openbaringe uit die Bybel om sy soeke na identiteit te vertel en te illustreer.

Die skryfproses was uitdagend omdat hy ’n druk program het en ’n  toegewyde gesinsman is. “Ek het besef ek gaan net hierdie gedoen kry as ek halwe tot volle dae opsysit en net op skryf konsentreer. Ek het ’n goeie ritme begin kry toe ek besef ek skryf produktief solank ek in ’n mooi omgewing met ’n pragtige uitsig sit en die plek ’n kragpunt en internet het. Ek het af en toe laat saans geskryf, maar moes my spertyd drie keer uitstel. Dit was uitdagend, maar uiters vervullend.”

“Die doel van die boek is om jong mans uit te daag om stil te raak en hulleself te konfronteer oor wie hulle is, hoekom hulle hier is en waarnatoe hulle op pad is.”

Hy sê die Here het hom voorberei en geïnspireer om die boek te skryf. “Ek is passievol daaroor dat mans hulle identiteit in God moet ontdek.”

Leandie du Randt, aktrise, skrywer, motiveringspreker

10806451_1508078149474351_6580507241319687686_n

Gemaklik in jou eie lyf

Haar boek, uitgegee deur Random House Struik, is gemik op vroue, tieners en jong volwassenes tussen 12 en 25 en is reeds op die rakke. Leandie het self verwarrende tienerjare beleef en was ’n boekwurm vandat sy 14 is.

“Ek wens ek het die dinge wat ek nou weet, op 14 geweet. Dit was my inspirasie vir die boek. As tiener wou ek myself net beter leer ken en verstaan. Gedurende Mei 2012 het ek swaargekry. Ons was by die KKNK en ek het die boek The Magic deur Rhonda Byrne gelees.

“Ek het net daar besluit ek wil alles wat ek al die afgelope tien jaar geleer en gelees het, verwerk en vereenvoudig vir tieners en vroue wat ’n verwarrende tyd beleef.”

Haar skryfproses het ’n jaar en ’n half geduur. Wanneer sy tyd kon afknyp, het sy geskryf, en toe sy vir vier maande lank nie werk gehad het nie, het sy elke dag agt uur lank daaraan gewy.

Die boek wil die boodskap tuisbring by meisies met ’n lae selfbeeld en verwarrende denke dat hulle perfek en spesiaal is nes hulle is. “Die kern van die boek is dat jy jouself moet leer ken en liefkry.

“Elkeen is uniek, spesiaal en het talente wat hul moet ontwikkel en gebruik. Ons vergelyk onsself met ander mense en probeer soos hulle wees. Jy moet eerder daaraan werk om die beste jy te word. Maar ons weet nie hoe om dit te word nie, want ons oordeel onsself en kyk net in die negatiewe vas.

“My boek vat jou dus oor ’n drie weke lange reis oor hoe om gemakliker te raak met jou lyf, gedagtes en siel. Tieners sal leer dat wanneer jy jouself eers aanvaar, liefhet en waardeer, sal ander jou sien vir wie en wat jy is. Jy sal ook leer om jouself nie met ander te vergelyk nie, dat jy ’n spesiale doel op aarde het en dat jy reeds alles in jou het om dit te verwesenlik.

“Baie vroue in hul 30’s sukkel steeds met ou seer en bagasie wat hulle saamdra van hul skooldae af. Die boek sal jou help om daardeur te werk en aan te beweeg.”

– Danél Blaauw