Moordenaar eindelik vas – 38 jaar ná eerste gesiggie van verlore kind op melkboks verskyn

Sy gesig was die eerste een wat op ’n melkboksie verskyn het nadat hy 38 jaar gelede verdwyn het, maar nou het geregtigheid eindelik vir klein Etan Patz geskied.


Dinsdag het ’n jurie in Amerika die winkelklerk Pedro Hernandez (56) skuldig bevind aan die moord op die sesjarige seun op 25 Mei 1979. Die saak is een van die stad New York se “oudste en pynlikste onopgeloste misdade” genoem.

“Die Patz-gesin het lank gewag, maar eindelik het ’n mate van geregtigheid geskied vir ons wonderlike seuntjie, Etan,” het sy pa, Stan Patz, ná die uitspraak gesê.

Stan en sy vrou, Julie, het die afgelope byna vier dekades kampvegters geword vir ’n nasionale databasis van vingerafdrukke. Hulle het hulle ook beywer vir federale wetgewing wat vereis dat skole ouers moet laat weet as hul kinders nie by die skool opdaag nie.

Op die oggend van sy verdwyning het Etan die eerste keer ooit self na die bushalte op pad skool toe gestap. Vier jaar ná sy verdwyning het pres. Ronald Reagan 25 Mei tot die nasionale dag vir vermiste kinders verklaar.


“Ek is baie dankbaar dat die jurie bevind het wat ek al lank geweet het – dat hierdie man, Pedro Hernandez, daaraan skuldig is dat hy so baie jare gelede iets allerverskrikliks gedoen het.”


Jare lank het ondersoekers leidrade en wenke opgevolg wat selfs behels het dat hulle in Israel na Etan se moordenaar gesoek het.

Maar in 2012 het hulle hulle toegespits op Hernandez as die hoofverdagte toe sy swaer vir die polisie sê hy het vir verskeie mense vertel hy het Etan doodgemaak.

Nadat hy ure lank ondervra is, het Hernandes teenoor die polisie skuld erken. Hy het vertel hy het Etan met ’n koeldrank gelok na die kelder van die winkel waar hy gewerk het, hom verwurg en hom in ’n boks gesit wat hy langs ’n hoop rommel in die straat gesit het.

“Ek kon net nie laat los nie; iets het my net oorgeneem,” het Hernandez aan die polisiebeamptes vertel toe hy ondervra is.


Hernandez se regspan wil teen die uitspraak appelleer, want hulle meen hul kliënt met sielkundige probleme is “vreemd, beperk en kwesbaar” en sy skuldbekentenis was bloot ’n waansinnige verbeeldingsvlug.

“Op stuk van sake glo ons nie dit sal die raaisel oplos van wat in 1979 met Etan gebeur het nie,” het Harvey Fishbein, sy hoofprokureur, gesê.

Maar die distriksprokureur van die distrik Manhattan in New York is vas oortuig van hul bevinding dat Etan se moordenaar eindelik aan die pen gery het.

“Die verdwyning van Etan Patz het amper vier dekades lank by gesinne in New York en regdeur die land gespook,” het Cyrus Vance ná die jurie se uitspraak in ’n verklaring gesê.

“Om die Patz-gesin afsluiting te gee oor Etan se verdwyning, was een van my grootste prioriteite sedert ek die amp aanvaar het. Vandag het ’n jurie bo enige blywende twyfel bevestig Pedro Hernandez het die vermiste kind ontvoer en vermoor.”


BRONNE: cnn.com, bbc.com, news24.com, nytimes.com