Ma, kêrel kap glo 14-jarige dogter op ná hy haar verkrag

Hulle het moontlik die skokkendste gruweldaad denkbaar gepleeg en daarna die polisie sowat vyf maande lank op ’n dwaalspoor probeer lei.

 

Maar nou is Jacob Sullivan (44) en sy meisie, Sara Packer (41), van die Amerikaanse deelstaat Pennsilvanië se doppie eindelik geklink. Hulle word onder meer aangekla van sameswering tot verkragting, seksuele aanranding, moord, ontvoering en lykskending.

Dit is die gruverhaal wat nou voor die distriksprokureur in dié Amerikaanse deelstaat ontvou.

Sara het na bewering in Julie verlede jaar vir haar eie seksuele genot gekyk hoe Jacob haar 14-jarige aangenome dogter, Grace Packer, verkrag voordat die paartjie haar glo vermoor en haar liggaamsdele in ’n nabygeleë bos versteek het.

Haar lyk is ironies genoeg tydens die Halloween-naweek verlede jaar ontdek. Die vermeende moordpaar is daarna in hegtenis geneem, berig MailOnline.

Jagters het op 31 Oktober op die oorskot afgekom. In sy skulderkenning het Jacob beskryf hoe hy haar liggaam in hul bad met ’n kettingsaag opgekerf, die liggaamsdele in swart sakke verpak en dié sakke toe in die bos versteek het.

Die aanklaers in die saak voer aan Sara en Jacob se weersinwekkende daad is aangevuur deur hul gemeenskaplike haat vir die meisie en hulle het na bewering sowat ’n jaar lank hieraan beplan.

Die klagstaat lui verder dat die paartjie na bewering ook ’n verkragtings- en moordfantasie deel wat hulle toe op Grace uitgeleef het, skryf Mirror.

 

Hiervolgens het Jacob haar eers aangerand en toe verkrag terwyl Sara vir haar eie genot alles aanskou het. Die 14-jarige dogter is toe versmoor.

’n Paar dae later het Sara Grace as vermis by die polisie aangemeld en gesê sy het van die huis af weggeloop. Sara het selfs ’n vervalste brief aan die polisie gegee wat sy kastig ná Grace se “verdwyning” in die huis gevind het.

In dié getikte brief het Grace gesê sy is ’n oorlas vir die familie, daarom het sy besluit om weg te loop.

Met sy eerste hofverskyning het Jacob aan verslaggewers gesê hy is jammer oor wat hy gedoen het . . .

Bronne: MailOnline; Mirror