Kyk hierdie vreemde talente: jy gaan jou oë nie glo nie

Toe die Amerikaanse basketbalspeler Akil Mitchell se oog op 26 Januarie tydens ’n wedstryd uit sy oogkas spring, was die toeskouers verslae.


Genadiglik het die besering nie sy sig benadeel nie. Maar Akil wil glo glad nie die video’s van die voorval kyk nie.

Akil se besering was nie sy keuse nie, maar daar is mense wat die oog-buite-oogkas as deel van ’n gereelde roetine beoefen.

Reg gelees. Daar’s mense wat doelbewus hul oë uit hul oogkas laat spring.

Soos die 14-jarige Ahmed Khan van Lahore in Pakistan. Hy het toevallig agtergekom hy kan sy oogbal uit die oogkas laat wip.

Hy het weldra met sy ander oog begin eksperimenteer.

Deesdae kry hy dit glo reg om die oogballe nie net te laat uitwip nie, maar glo 10 mm ver kan laat uitwip.


 

Kim Goodman van Amerika het jare gelede opslae verwek toe sy haar oë 11 mm ver kon laat uitwip.

 

Op 2 November 2007 het Kim haar naam tot in die Guinness World of Records-boek ingewip toe sy haar oë tot 12 mm buite haar oogkaste laat wip het.

Kim het glo dié vreemde talent ontdek nadat sy met ’n hokkiemasker teen die kop getref is. Gelukkig hoef sy nie meer gemoker te word om haar oë dié aardige toertjie te laat doen nie.


Nou het Ahmed glo sy oog op daardie rekord.

“My oogbalwippery is baie beter as daardie Amerikaanse vrou (Kim) s’n en ek kan haar rekord enige tyd verbeter.”

Hoewel die oog-uitwippery vreemd is, is dit nie heeltemal uniek nie.

In 2009 het hierdie man probeer om ’n Guinness-wêreldrekord op te stel deur sy oë die langste uit hul kaste te laat spring.

Die rekord in daardie stadium waas 34 sekondes. Sy rekord: 43 sekondes!

 

Bronne: nzherald.co.nz, foxnews.com, guinnessworldrecords.com, mailonline.com