Koninklike se man tronk toe vir bedrog en sy met derduisende beboet

cristina


Prinses Cristina van Spanje en haar man is vandag gevonnis ná ’n uitgerekte hofgeding oor hul geldsake.

Cristina (51), suster van koning Felipe (49) van Spanje, was een van 18 wat in die beskuldigdebank opgeëindig het nadat haar man se liefdadigheidsorganisasie in 2010 onder die soeklig beland het.

Een van hul medebeskuldigdes is ’n gewese minister van die land, Jaume Matas (62).

Cristina se man, die voormalige Olimpiese handbalspeler Inaki Urdangarin (49), het volgens die staat deur sy organisasie miljoene euro uit openbare fondse steel.

Sy Nóos-instituut is glo gebruik om teen verhoogde pryse vals kontrakte van streeksregeringsorganisasies te bekom. Bedrae wat op dié manier bekom is, beloop glo meer as R84 miljoen.

Een van die voorvalle wat tydens die ondersoek na vore gekom het, was toe Inaki en sy sakevennoot, Diego Torres, die owerhede R4,8 miljoen vra vir ’n twee dae lange toerisme-en-sportgeleentheid.

Nadat die geld in die organisasie se beursie beland het, het hy dit luidens berigte oorgeplaas na rekeninge waar belastingverligting geld.

Berigte dui daarop dat van die stigting se geld ook in privaat rekeninge beland het. Dis glo onder meer gebruik vir vakansies en om meubels en selfs kaartjies vir die teater te koop.

Nege klagte is teen Inaki gelê, onder meer vir beweerde bedrog en belastingontduiking.

Aanvanklik is gegis Inaki sou langer as 19 jaar in die tronk moes sit. Hy is egter ’n aansienlik korter vonnis opgelê: net ses jaar en drie maande.

Die moontlikheid is ook geopper dat Cristina self die gerief van haar huis vir ’n tronksel sou moes verruil.


Sy is egter vrygespreek van belastingbedrog, maar is ’n boete van ongeveer R3,7 miljoen opgelê. Dit word as ’n “burgerlike verantwoordelikheid” beskryf.


Christina is sedert 2014 van haar koninklike dienste onthef; Felipe het toe die troon bestyg. Hy het dieselfde met hul suster, prinses Elena (53), gedoen. Dis glo deel van ’n poging om die monargie te moderniseer.

Cristina en haar man sou daarna as die hertog en hertogin van Palma van Mallorca bekend staan, maar in die daaropvolgende jaar het die koning hulle ook daardie titels ontneem.


Die saak word as ’n “swart dag” vir die Spaanse monargie bestempel. Cristina is die eerste koninklike wat sedert 1975 deur kriminele klagte in die gesig gestaar is.

Luidens berigte het haar broer hom in die openbaar van haar gedistansieer.


Die egpaar hou steeds vol hulle is onskuldig en sal waarskynlik teen die uitspraak appelleer.

Bronne: bbc.co.uk, reuters.com, yahoo.com