Hof vergoed vrou met honderdduisende ná geskil oor R6 se tjips

Burger King moet ingevolge ’n hofbeslissing ’n oudwerknemer R458 000 betaal nadat sy onregmatig afgedank is.

Foto: Pixabay

Foto: Pixabay

Usha Ram, ’n vrou van Vancouver, is in Januarie 2014 uit haar pos onthef nadat haar bestuurder haar van diefstal beskuldig het.

Dié 55-jarige immigrant, oorspronklik van Fidji, het 24 jaar as kok by verskeie Burger King-takke in en om die Kanadese stad gewerk.

Sy is afgedank nadat sy ná haar skof een Desemberdag ’n vistoebroodjie met skyfies en ’n koeldrank huis toe geneem het.

Volgens haar het sy dié dag haar beursie by die huis vergeet en haar bestuurder, Tayyaba Salman, gevra of sy kos kan huis toe neem. Usha het in die hof getuig Tayyaba het ingestem; daarom het sy die kos vir haar ingepak.

Drie dae later is sy weens diefstal afgedank. Volgens Tayyaba het sy net toestemming gegee dat Usha ’n vistoebroodjie kon huis toe neem, nie skyfies en ’n koeldrank ook nie.


Haar baas, Janif Mohammed, het Usha afgedank om ander personeellede te waarsku teen steel. Regter Lisa Warren het egter bevind Usha se werkgewers het “onredelik, onregverdig en onsensitief” opgetree.

Die hofsaak het berus op of Usha werklik gesteel het. Volgens haar het sy Tayyaba gevra: “Kan ek vis kry?” Usha praat nie goed Engels nie; daarom het sy die vraag in haar moedertaal, Hindi, gevra.

Volgens hofdokumente mag bestuurders werknemers toelaat om kos gratis huis toe te neem. Usha hou vol sy het bedoel: “Mag ek ’n vistoebroodjie-maaltyd huis toe neem?” – bedoelende die toebroodjie sowel as skyfies en ’n koeldrank.

Hindi het geen woord vir toebroodjie nie. Tayyaba het Usha se vraag bloot verstaan as: “Kan ek ’n vistoebroodjie huis toe neem?”

Die hof het gehoor die ekstra skyfies en koeldrank wat Usha huis toe geneem het, sou haar danksy afslag vir werknemers net R6 uit die sak gejaag het.

Sy is dus as’t ware oor R6 afgedank, maar die einste Burger King-tak moet haar nou met R458 000 vergoed. Die regter het beslis sy moet ’n jaar se salaris ontvang, wat R275 000 beloop, en ook dat skadevergoeding aan haar betaal word.

Usha, wie se man fisiek gestrem en wie se volwasse dogter verstandelik gestrem is, het net tot gr. 8 skoolgegaan.

Bronne: BBC; Newsmax