Die wêreld wonder: waar was Sasha Obama tydens haar pa se afskeidstoespraak?!

Dit was een van die grootste oomblikke van sy politieke loopbaan. Alle oë was op Amerika se pres. Barack Obama toe hy gisteraand sy laaste toespraak as president in Chicago lewer, maar een gesinslid het geskitter in haar afwesigheid – sy jongste dogter, Sasha (15).

 

Waar is Sasha?, wou talle aanlyn weet terwyl Obama in ’n roerende toespraak hulde gebring het aan sy vrou, Michelle, en hul twee dogters, Malia (18) en haar kleinsus.

 

En terwyl Obama trots vertel het hoe sy dogters in “twee wonderlike jong vroue” ontluik het, het die kameras net op een van hulle ingezoem, Malia, wat trots langs haar ma gesit en trane wegpink het.

“Julle is slim en pragtig, maar belangriker nog, julle is gaaf, bedagsaam en passievol,” het hy aangedaan vertel. “Van alles wat ek al in my lewe gedoen het, is ek die trotsste op my rol as pa.”

Dit het so gegons in die sosiale media dat die hutswoorde #whereissasha soos ’n veldbrand aanlyn versprei het, met skreeusnaakse gevolge.

Die Withuis het intussen bevestig dat Sasha, wat tans op hoërskool is, haar pa se toespraak misgeloop het omdat sy die volgende oggend ’n eksamen moes skryf. Praat van toewyding!

Obama het vroeër laat val dat hulle in Washington DC gaan aanbly ná sy ampstermyn op 20 Januarie verstryk sodat Sasha hoërskool kan voltooi aan die privaat spogskool Sidwell Friends.

Die Obama-egpaar huur op die oomblik ’n vierverdiepinghuis in Kalorama, een van Washington DC se mees gesogte buurte. Die herehuis met sy nege slaapkamers is in 1928 gebou en behoort aan oudpres. Bill Clinton se voormalige woordvoerder Joe Lockhart en sy vrou, Giovanna Gray. Giovanna werk vir die glanstydskrif Glamour. Ons wed hul bure kan nie wag om die Obamas in die buurt te verwelkom nie.

BRONNE: THEGUARDIAN.COM, DAILYMAIL.CO.UK, EDITION.CNN.COM