Welkom terug, Wayde! Heldeontvangs vir Olimpiese goue seun

’n Groot skare mense het Woensdagoggend op die OR Tambo Internasionale Lughawe angstig gewag op die aankoms van die Olimpiese rekordhouer Wayde van Niekerk.

Hoewel niemand seker was hoe laat Wayde, 400 m-wêreldrekordhouer, en Akani Simbine, Suid-Afrikaanse rekordhouer oor 100 m, sou land nie, het dit geen afbreuk aan hul ondersteuners se entoesiasme en hartlike verwelkoming gedoen nie.


Net ná elfuur Woensdagoggend het dit behoorlik in die aankomssaal weergalm toe sowat 500 juigende ondersteuners die twee atlete dawerend begroet het.



Landsvlae is vrolik heen en weer geswaai en almal was slaggereed om hul helde se aankoms op hul selfoon vas te lê.



Aleck Skhosana, president van Atletiek Suid-Afrika (ASA), het die atlete bedank vir hul goeie prestasie by vanjaar se Olimpiese Spele in Rio de Janeiro.

“Dit is met groot trots dat ASA vir Wayde van Niekerk en Akani Simbine terugverwelkom in Suid-Afrika. Hulle was ware ambassadeurs vir ons land en ’n uitstekende voorbeeld van waarna ons jeug kán en móét streef. Ons bedank hulle vir hul groot bydrae tot ’n sterk en trotse nasie.”

– Marizka Coetzer