SA studente presteer internasionaal met hul ‘nutella’ van boontjies en groente!

Nutella van boontjies en groente gemaak?

Foto: facebook.com/ScoolBeans/

Foto: facebook.com/ScoolBeans/

’n Span voedselwetenskapstudente het dié dik smeer met ’n sjokolade-en-haselneutgeur uit ’n konkoksie van gegiste rooi skilderboontjies en patats geskep.

Die produk, wat hulle S’cool Beans gedoop het, was so goed dat dit op 22 Augustus in Dublin, Ierland, die tweede plek behaal het in die Internasionale Unie vir Voedselwetenskap en Tegnologie se Voedselwetenskapstudente teen Wêreldhonger-kompetisie.

“Die doel van die kompetisie is om honger te beveg deur ’n voedselproduk te ontwerp wat baie proteïen en vesel en min sout bevat,” het Cenette Bezuidenhout, een van die spanlede, uit Dublin gesê.

Cenette en haar klasmaats Carin-Marie Engelbrecht, Nicholas Grobbelaar, Taryn Harding, Shannon Howell en Megan Kleyn (almal 23 jaar oud) het die smeer geskep as deel van hul voorgraadse werk vir die graad in voedselwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

nutella1

“Die tema was heilsame gesondheid en ons wou ’n produk skep wat gesond, voedsaam en lekker is,” het sy verduidelik. “S’cool Beans bevat die meeste van die voedingstowwe wat jong kinders nodig het. Dit het baie proteïen, dieetvesel, vitamiene en minerale, maar baie min sout. Dit bevat minder as die helfte van die suiker wat in kommersiële sjokoladesmere voorkom, want ons het 1 t per porsie ingesluit. Ander handelsmerke bevat tot 5 t suiker per porsie.”

Cenette sê hul smeer is relatief goedkoop om te produseer, maar dit duur minstens 12 uur om een “baksel” te maak.

So, gaan ons ’n kans kry om dit te beproef?

“Daar is ’n moontlikheid van kommersialisering, maar ons soek nog ’n maatskappy om dit te vervaardig,” het sy gesê.