Kul jou hier, kul jou daar: Dié SA kulkunstenaar se toertjies sal jou asem wegslaan

EUys_LarryS_E7P_0689-Edit


Hy kan vurke reg voor jou oë buig en jou ma se naam noem sonder dat hy enigiets omtrent jou – of haar – weet. Al wat jy hoef te doen, is om aan haar naam te dink en hy sal dit uit jou kop kan optower.

Hy kan jou ook laat dink hy raak aan jou arm al is hy nie naby jou nie en doen kaarttruuks wat selfs die briljanste onder ons sal verbluf.

Larry Sofer is so goed dat dit wat hy doen al selfs die mees siniese toeskouers verwonder – en met hoendervel – gelaat het nadat hulle hom in aksie gesien het.

Is jy bekend met die televisiereeks The Mentalist? Wel, Larry is Suid-Afrika se weergawe van daardie ou. Hy noem homselfs ’n mentalis – asook ’n kulkunstenaar. En die illusies wat hy kan skep, is iets besonders.

Die Kaapse towenaar (33) se talente was van kleins af duidelik en hy het op 13 ingeskryf by die College of Magic om meer daaroor te leer. Hy het vier jaar later met die gesogte silwer medalje – die hoogste eerbetoon wat die skool uitdeel – gegradueer.

IMG_9774

Larry het toe die gesogte Siegfried and Roy Masters of The Impossible-beurs losgeslaan om verder in Las Vegas onder Siegfried en Roy, die beroemde Duitse towenaars, te studeer.

Sy verblyf in Amerika was ’n groot sukses: Hy is genooi om by die bekende Magic Castle in Hollywood op te tree – die eerste Suid-Afrikaner wat nog ooit sy talent by die gesogte venue kon ten toon stel. Op 23 was hy ook een van die jongste towenaars wat al daar opgetree het.

Hoewel sy verstommende towerkunsies hom al heelwat lof verdien het, hoop hy dat hy ’n dieper betekenis deur sy truuks aan ander kan oordra. Sy leuse is “jy moet glo om te sien, nie sien om te glo nie”. Hy wil mense oorreed om te glo enigiets is moontlik as jy jou daarop toespits.

Gepraat van, waar is daardie vurk . . .

Wil jy vir Larry in aksie sien? Maak seker jy maak ’n draai op Huisgenoot se Facebook-blad om 12:30 nm op Donderdag, 8 September, vir ’n spesiale regstreekse utivoering van sy toertjies!