Rubriek: Toe trap ek in die Valentynsdagstrik!

Ek was seker so tien of elf jaar oud, toe die laerskool ’n paar dae voor Valentynsdag strikkies verkoop het.

Die geel, blou en rooi haakspeld-strikkies, was elkeen ’n boodskap van ’n geheime bewonderaar. Geel het beteken “jy is oulik”, blou was iets soos “ek hou van jou” en as ek reg onthou het rooi wraggies vir “ek het jou lief” gestaan.

Dan het die prefekte op Valentynsdag by die klasse om gekom en name uitgelees van die gelukkiges wat strikkies gekry het. Daar was meisies wat teen eerste pouse met rye strikke op hul skoolrokke kon spog.

Nie ek nie.

Ek dink nie ek het ’n strikkie gekry nie. As ek het, was dit ’n gele en dan was dit sekerlik my ma wat my jonger broer gedwing het om dit te koop. Later jare was daar darem hier en daar ’n sagte speelding of ’n P.S.-sjokolade wat oor my pad gekom het.

Ek was meestal besonder enkellopend wanneer dit Valentynsdag was.

Maar nou dat ek daaraan dink… Tussen die dag wat die skool begin en Valentynsdag, is daar nie baie tyd om ’n kêrel te kry nie. Jy het omtrent ’n maand om plan te maak. So ook g’n wonder nie!
In elk geval, Valentynsdag was nog nooit ’n gunsteling op my almanak nie.

Oe nee. Ek was nog altyd gek daarna om uit te vaar teen Valentynsdag. “O dis so kitsch!” sou ek in rubrieke tier.

“Ek dra eerder swart en kyk sepies op Valentynsdag,” het ek graag verkonding. “Walglike Valentynsdag,” het ek al geskryf. En ja, jaar na jaar het ek en my beste vriendin swart gedra. Geen rooi linte in die hare of wit somerrokkies in sig as dit 14 Februarie is nie.

Jaar na jaar.

So moes ek toe twee jaar gelede vir ’n week Stellenbosch toe gaan om klasse vir my nagraadse studies by te woon.

’n Week voor my Kaapse kuier kry ek ’n SMS van ’n jare lange-universiteitsvriend wat intussen Kaap toe verhuis het.

“Gaan ons dan nou nooit weer met mekaar praat nie?” vra hy ná ons vir maande nie eintlik kontak gehad het nie.

Ons het ’n afspraak gemaak en ’n heerlike Woensdagaand in die strate van Stellenbosch deurgebring.

Die Saterdagoggend daarna volg ons die lekker kuier op – enkele ure voor ek lughawe toe moet gaan om Johannesburg toe te vlieg. Ons gaan stap langs Bloubergstrand en sorteer al ons misverstande en kommunikasiegapings uit.

Oor ’n paar koppies koffie en lang glase lemoensap begin ons weer bou aan ons vriendskap wat uit ons eerstejaar in Potchefstroom dateer.


Houtbaai. ☀️

A photo posted by Charlea Sieberhagen (@charleasieberhagen) on

Min het ons tóé geweet dit is die eerste dag van ’n langafstandverhouding van omtrent ’n jaar en ’n half, voor ek ook eindelik Kaap toe sou trek.

Maar met vrede in ons harte en ’n tentatiewe plan vir die einste langafstandverhouding in ons koppe, betaal ons en stap tussen die strand-restaurant se vrolike sonsambrele deur.

En die kelner waai vriendelik toe hy met ’n uitroep groet: “Happy Valentine’s day!”