Man met konstante kloppende hoofpyn bly om eindelik te weet wat’s fout

Foto: Pixabay

Foto: Pixabay



Daar is heeltyd ’n geraas in jou ore – soms klink dit soos druisende water, ander kere soos jou hartklop. Partykeer raak jy so uitgeput en duiselig dat jy dae lank net plat op jou rug lê. Die skril hoofpyne is altyd daar. Dit voel of jou brein te groot is en uit jou skedel wil bars, kompleet asof jy ’n breingewas het . . .

Dis waarom dié siekte pseudotumor cerebri genoem word, oftewel idiopatiese (van onbekende oorsprong) intrakraniale hipertensie (IIH). Martin Lintott (37) van Johannesburg ken hierdie “hellevaart” ongelukkig te goed.

Ná twee jaar van duiseligheid, vertigo (dit voel of die omgewing om jou beweeg of tol), ondraaglike hoofpyne en onsekerheid is IIH eindelik by hom gediagnoseer.

Sy lewe lank was Martin gesond – tot in 2013. “Sedertdien het dit my sielkundig en finansieel geknak,” vertel hy.

Sy verloofde, Rachelle de Hart (37), wat as verkoopsvrou by ’n ingenieursmaatskappy werk, is nou die enigste broodwinner nadat hy weens die siekte sy lonende loopbaan in kleinhandelbedryf kwyt is.

Mense by die huis en veral by die werk het soms gedink hy sit aan. “Geen sigbare, fisieke simptome wys jy is siek nie, maar hier aan die binnekant voel dit of jou wêreld in duie stort,” sê Martin.

September was juis Internasionale IIH-bewusmakingsmaand. Een uit elke 100 000 mense wêreldwyd moet hiermee saamleef. “Ek wil keer dat ander wat ook konstant hoofpyn het nie soos ek drie jaar lank sewe of agt hoofpynpoeiers per dag neem en dink die simptome sal weggaan nie,” sê Martin.

Gaan spreek ’n neurochirurg so gou jy kan om seker te maak die simptome is nie dalk aan IIH te wyte nie, is sy raad.

Om te toets of hy aan IIH ly, is ’n lumbale punksie gedoen om die drukking op sy brein te bepaal. Die prosedure het dit ook 24 uur lank verlig. Sedertdien was hy vir nog vier lumbale punksies. Dis min – Martin het al van IIH-lyers gehoor wat tussen 90 en 100 van hierdie prosedures ondergaan het.

Lees ook: Klop só lag-lag jou hoofpyn

In Maart 2013 het Martin gedink hy het hartversaking omdat hy gereeld kortasem was, maar die eerste dokter het bevind hy het moontlik ’n infeksie weens diabetes. Martin het sy raad gevolg, gesonder begin leef en binne die volgende jaar gewig verloor: van 140 tot 105 kg.

In Julie 2014 het hy skielik weer baie siek geword en hartkloppings, die allerverskriklike hoofpyn en maagpyn ervaar. ’n Volgende dokter het gemeen dis gastro-enteritis, maar die behandeling het nie Martin se kloppende kop laat bedaar nie.

Hierna het hy gehoor hy het nierversaking, diabetes mellitus, oorinfeksie, infeksie in sy tande, slaap-apnee en veneuse sinustrombose. ’n Psigiater het selfs bipolêre gemoedsteuring by hom gediagnoseer.

Een van sy talle dokters het vermoed hy ly aan okulêre migraine en “moet in ’n donker kamer gaan lê en baie soutkraakbeskuitjies eet om die hoofpyne te verlig”.

Martin het agt maande lank vasbeslote probeer om aan te hou werk. In ’n stadium moes hy 2 000 mg diuretiese medikasie drink om die water van sy brein af te dryf. Tot die newe-effekte van die pille hom in die Johannesburgse spitsverkeer sy bewussyn laat verloor het . . .

Twintig jaar lank was Martin ’n suksesvolle, loopbaangedrewe en gesonde man. “Ek was ’n oorpresteerder; daarom is ek nou so gefrustreer en teleurgesteld,” sê hy. “My hele lewe staan stil. Die rits spesialiste het hom met elke besoek R3 000 en R4 000 uit die sak gejaag. Hy moes dit elke keer van sy mediese fonds verhaal, maar daardie hulpbron is nou uitgeput.

Lees ook: Eers ‘n skeelhoofpyn, toe kon sy glad nie praat of skryf nie!

Vriende en familie het eindelik ’n neurochirurg in Florida aan die Wes-Rand aanbeveel en binne 15 minute kon dié kenner die diagnose maak. Maar steeds kan geen spesifieke oorsaak vir die siekte by Martin gevind word nie.

“Hierdie siekte is sedert die laat 1800’s bekend, maar hier in 2016 weet niemand nog wat die wortel daarvan is nie,” sê Martin.

Die siekte kom wel in party families voor, maar kenners kon nog nie vasstel of dit geneties oorgedra word nie. IIH kom meestal by vroue voor en die gemiddelde ouderdom waarop dit gediagnoseer word, is 30 jaar.

Medikasie soos langtermyn-antibiotika vir ’n verskeidenheid veltoestande en hormonale voorbehoedmiddels wat by vroue ingeplant word, kan die drukking van vog op die brein veroorsaak.

Oorgewig of vetsugtige mense is ook vatbaarder vir IIH, veral vroue wat 10 persent en mans wat 20 persent meer as hul ideale gewig weeg. In 95 persent van sulke gevalle kan ’n maagomleiding die simptome laat opklaar.

Tien tot 25 persent van die lyers se sig word aangetas, want weens die drukking in die skedel swel die optiese senuwees agter die retina. As die siektetoestand nie met waterpille of stents beheer word nie, kan dit tot permanente blindheid lei.

Tinnitus (die gesuis in sy ore) verhoog die kans om doof te word omdat daar gereeld drukking is op die oortromme.

As ’n mens vermoed jy het IIH, doen ’n neuroloog eers ’n breinskandering om vas te stel of ’n gewas druk in die skedel laat opbou. Daarna word ’n limbale punksie gedoen om te bepaal hoeveel drukking daar is.

Lees ook: Hierdie kosse kan ‘n skeelhoofpyn veroorsaak

As die omleidings (“shunts”) wat ingeplant word die vog te hewig dreineer, of as dit besmet of geblokkeer word, moet die pasiënt weer onder die mes gaan. Van dié toestelle kan geprogrammeer en van buite met ’n magneet ingestel word, maar dan moet die pasiënt baie elektroniese toebehore vermy omdat dit die omleiding se verstellings kan ontwrig. Lumbale omleidings kan ook gebruik word om vloeistof uit die ruggraat na die maag te dreineer.

Martin gesels gereeld per e-pos met personeel van die Johns Hopkinson-universiteit in Baltimore, Amerika, en hulle het hom genooi om daar toetse te ondergaan om te kyk of hy vir die gevorderde stentprosedure kwalifiseer.

’n Stent word in die basis van die breinstam ingeplant om die aar van binne te vergroot. Dit sal beter bloedvloei bewerkstelling sodat vog vinniger van die brein weggevoer word.

“Ek kon nog nie ’n plaaslike chirurg opspoor wat dit kan doen nie,” vertel Martin, wat ook nog die geld vir die inplanting moet bymekaarskraap. Die koste van so ’n prosedure in Amerika kan honderdduisende beloop.

Alles is darem nie verlore nie. IIH beïnvloed nie jou normale lewensverwagting nie en by sekere lyers het die toestand al vanself in remissie gegaan. Martin en sy geliefdes hoop en bid hy is een van dié gelukkiges.

Simptome van idiopatiese intrakraniale hipertensie:

  • Knaende hoofpyn
  • Gesuis in die ore
  • Pyn in die nek, rug of skouers
  • Naarheid en braking
  • Duiseligheid
  • Ligsensitiwiteit

Ander minder algemene simptome sluit in gevoelloosheid in ledemate; algemene swakheid en ’n verlies aan reuk en koördinasie.

Wat sê die dokter?
Dit neem lank om idiopatiese intrakraniale hipertensie (IIH) te diagnoseer, want min dokters is daarmee bekend, sê dr. Jacques Scheltema, Martin Lintott se neurochirurg by die Olivedale-kliniek in Randburg. Boonop sal baie lyers se breinskandering normaal lyk. Talle ander breinsiektes, soos kanker, kan ook drukking op die brein veroorsaak en moet daarom eers uitgeskakel word.

Die prognose is meestal goed. Die meeste IIH-lyers sal binne drie jaar spontaan herstel. “In my praktyk het ek ook pasiënte gesien by wie die toestand opgeklaar het nadat hulle tot 15 kg afgeskud het,” vertel Jacques.

Stents kan wel in Suid-Afrika ingeplant word, maar net mense met ’n vernouing in die veneuse aarstelsel kwalifiseer daarvoor. Hy maan dit moet nie as “dié antwoord” beskou word nie, want net ’n klein groepie pasiënte sal hiervoor in aanmerking kom.

Ekstra bron: Facebook