Hoe om steeds Kersdag te geniet op ’n piepklein begroting

Foto: Pexels

Foto: Pexels



Kersdag is amper hier en terwyl sommige families spandabelrig kan wees, moet die meeste Suid-Afrikaners ongelukkig streng by hulle kersbegroting hou. Het 2016 sy tol op jou spaargeld geëis en is jy bevrees dat jy nie Kersfees kan geniet nie?

Moenie bekommer nie, volgens DebtSafe se skuldbestuur-kenner, Wikus Olivier, is daar om ’n hele paar maniere om die 25ste Desember spesiaal te maak met ’n piepklein begroting:

Tyd is kosbaar
Mense is geneig om te vergeet waaroor Kersfees eintlik gaan. Die gratis geskenk van tyd met familie en vriende hou definitief meer voordele in as wat enige materialistiese item ooit kan.

Spandeer eerder kwaliteit tyd saam met jou geliefdes. Geen geskenk sal ooit dieselfde waarde van tyd en herinneringe met jou hartsmense kan bied nie.

Die ideale begrotingsplan
Stel ’n ‘gebruikersvriendelike’ begroting op, wat jou behoeftes aanspreek hierdie Kersdag, en hou daarby. Jou begroting moet eenvoudig wees. Begin so vroeg as moontlik om jou finansies in orde te kry sodat jou begroting wel realiseer teen Kersdag.

Hier is ’n paar praktiese stappe wat jy kan volg om jou Kersbegroting op te stel:
• Bepaal hoeveel geld jy vir Kersdag beskikbaar het.
• Dui duidelik aan wat jou uitgawes vir Kersdag gaan wees, byvoorbeeld: kos, geskenke of petrol (as jy iewers heen moet ry).
• Wees op die uitkyk vir winskopies rakende die items wat jy moet aankoop.

Lees ook: Oorleef so tot die einde van die jaar

’n Basiese Kersbegroting kan só lyk:

begroting_debtsafe

Die voorbeeld dui aan dat jy amper R300 spaar na al jou kersdag-aankope. Jy moet jouself afvra wat jy met daardie ekstra geld gaan doen en die beste opsie sal wees om dit weg te sit om geleidelik jou skuld minder te maak of om dit te spaar.

’n Laaste wenk in terme van jou Kersbegroting: hou jou uitgawes dop. Dit beteken nie dat jy minder pret gaan hê nie. Onthou die beste dinge in die lewe is gratis, of ten minste nie so duur nie.

’n Bekostigbare kersfeesmaal
Kry vriende en familie opgewonde oor die Kersmiddagete of -aandete deur hulle betrokke te kry in die proses. Vra vir Ouma om haar gewilde appeltert te bring, laat elke huisgesin sy gunsteling slaai bring en jy kan die vleis verskaf. Dit sal beslis jou en jou geliefdes in die regte rigting instuur om geld te spaar.

Indien jy die gasheer is, beteken dit nie dat jy elke uitgawe op jouself moet neem nie. Olivier sê dat jy geld sal spaar om die nodige items (soos byvoorbeeld vleis), by die plaaslike mark voor Kersdag aan te koop en nie by ’n winkelsentrum nie.

Lees ook: Bestuur jou geldsake

Koop nou al blikkies kos en goedere wat gevries kan word en nie op die laaste nippertjie nie (dit is juis wanneer alles uitspattig duur kan wees). Doen daarom ook jou huiswerk rakende Kersresepte om vooraf te bepaal wat en hoeveel jy gaan nodig hê. Daar is verskeie oulike resepte in die nuwe tydskrif uitgawes sowel as verskeie webblad opsies soos: Kreatiewe Kos Idees, Food Lovers en Huisgenoot.

Pret kos mos niks
Om pret te hê op Kersdag is lekker, maar as die aktiwiteite wat jy doen nog goedkoop daarby is, is dit verseker ’n bonus.

Kom in kontak met Moeder Natuur en slaan kamp op in die tuin of wat van ʼn tent in die sitkamer? Jy en jou geliefdes kan ook jou stad verken soos regte toeriste en bekostigbare aktiwiteite aanpak soos byvoorbeeld om piekniek of ’n braai iewers te gaan hou. Gaan ry deur die strate met die mooi kersliggies en oorweeg spesiale aanbiedinge wat te vinde is op: Coupons SA of vouchercloud vir uiteet-opsies en so meer.

Wees met ander woorde op die uitkyk vir plekke wat bekostigbaar is en selfs ’n lae of geen toegangsfooi het.

Sakpas-versierings en -geskenke
Kersfeesversierings en -geskenke hoef nie duur te wees nie. Hoekom sou jy nuwe items aankoop wanneer jy goed kan opkikker wat jy reeds tot jou beskikking het (soos dennebolle en wasgoedpennetjies)? Dit is nie net ’n goedkoper opsie nie, maar ook ’n genotvolle aktiwiteit wat jy kan doen met die kinders sowel as die ouer familielede.

Lees ook: Spaar só geld hierdie bestedingsvriesmaand

Oorweeg ’n paar Suid-Afrikaanse geïnspireerde idees vir kersversierings en geskenkies wat op webblaaie soos Pinterest is.

Buiten die bogenoemde, het families ook deesdae die spaarsamige gier om slegs geskenke vir kinders te koop of ’n limiet op kersgeskenke te plaas, byvoorbeeld R50. Elke persoon bring ’n geskenk van sowat R50 na die Kersfeesete toe. Hierdie geskenk word dan saam met die ander geskenke geroteer en elke persoon word verras met ’n geskenk ter waarde van R50.

Daar is talle maniere om Kersdag te geniet met ’n klein begroting. Gee die bogenoemde idees ’n kans – hierdie wonderlike tyd van die jaar is baie meer werd sonder aansienlike bedrae geld. Wat nog te praat van die onnodige spanning wat daarmee gepaard gaan.

As jy jouself egter in ’n oorverskuldigde situasie bevind en vrees dat jy nie Kersfees enigsins sal geniet nie, kontak DebtSafe se skuldadviseurs om die beste hulp en raad vir jou huidige situasie te bied.

debtsafe-logo-CMYK-page-001