Bos gegaan met die kaarte? Waak só teen die ‘Janu-worrie’

credit-cards11


Dit gebeur elke jaar dié tyd: Verbruikers bestee opvallend meer met hul kredietkaarte as gedurende die ander maande van die jaar.

Sommige word so meegesleur deur die algemene koopkoors dat hulle vroeg in die nuwe jaar sukkel met ’n erge geval van “Janu-worrie”, oftewel die Januarie-blues.

Verbruikers sal na verwagting dié vakansie weer oor die 20 persent meer met hul kredietkaarte bestee as hul gemiddelde kredietkaartaankope vir die voorafgaande maande van die jaar, beraam FNB Credit Card.

“Ons het die gemiddelde besteding van Januarie tot November voorverlede jaar bekyk en die relatiewe toename in Desember 2015 om ’n aanduiding te kry van hoeveel meer verbruikers kan verwag om dié feestyd te bestee,” verduidelik Chris Labuschagne, uitvoerende hoof van FNB Credit Card.

 

 

En die bevinding was ’n toename van 22 persent in kredietkaartaankope voorverlede Desember vergeleke met die gemiddelde vir die voorafgaande 11 maande.

Die grootste Desember-bestedingstoename word in die vermaakkategorie bespeur (uiteet, drank, kaartjies vir vermaakgeleenthede, insluitend sport), gevolg deur luukse ware (speelgoed, klere, elektroniese toestelle en juwele),  “tuistebesteding” ( meubels, harde- en tuinware, want baie mense knap dan hul woonplek op), gesondheid- en skoonheidsprodukte en -dienste, asook kruideniersware.

As jy seker maak jy kan sulke aankope maklik terugbetaal, dalk deels uit ’n bonus, is ietwat groter kredietbesteding in die maand waarin almal ná ‘n tawwe jaar wil uitspan heel aanvaarbaar. Maar beplanning en dissipline bly noodsaaklik.

 

 

Sommige verbruikers kan hulle ongelukkig dié tyd letterlik tot in ’n skuldspiraal bestee.

Chris benadruk juis: “Terwyl dit wonderlik is om die feestyd saam met familie en vriende te geniet, moet jy ook seker maak jy gee nie meer uit as wat jy eindelik kan terugbetaal nie.”

Baie huishoudings maak op krediet staat om hul daaglikse uitgawes te dek, maar dis ’n aanduiding dat hulle nie binne hul vermoë leef nie, sê die kredietombud Nicky Lala-Mohan. En in die feestydkonteks is dit veral kommerwekkend.

Oorbesteding dié tyd van die jaar word dikwels deur emosies aangevuur. Verbruikers voel hulle het heeljaar hard gewerk en verdien dit om hulself en hul gesin te bederf. Baie van hulle sukkel egter dan reeds om bestaande skuld te delg, en ander begroot glad nie vir die feestyd se ekstra besteding nie.

En met hul kredietkaarte reeds by die maksimum perk, beland hulle dan soms in ’n skuldstrik, sê Nicky. “Dis gevaarlik om te veel op krediet te koop net omdat dit lyk of almal dit nou in die winkelsentrums doen.

“Verbruikers moet onthou einde Januarie moet jy buiten daardie nuwe skuld ook byvoorbeeld skoolgeld betaal,” sê Nicky. En ’n mens moet dan ook dikwels vooruit betaal vir ander belangrike eenmalige jaarlikse uitgawes.

“As jy nie kredietterugbetalings kan bekostig nie en agter raak, kan rente jou naderhand erg knou. Dis gewoonlik die eerste stap na ’n skuldspiraal.

“Dus, as dit nie in jou begroting is nie, moenie krediet aangaan om dit te koop nie,” maan Nicky.

 

 


Hier is basiese riglyne om jou “Janu-worrie” of erger skuldstres te spaar:

  • Vermy nuwe skuld.
  • Stel ’n feestydbegroting op en hou daarby.
  • Maak inkopielyste voor jy winkel toe gaan om kompulsiewe aankope te help voorkom.
  • Vergelyk altyd eerder verskillende verskaffers se prys vir dieselfde produk.
  •  Moenie dat geskenkbewys-aanbiedings jou onnodige items laat koop of rekenings laat open nie.
  • Gaan net  met geregistreerde kredietverskaffers ooreenkomste aan.