Kry al vanaand se Kom Ons Braai-resepte hier

Pieter en Rozanne verras hul gaste met Kalahari-soesji by hul braai terwyl Jaco en Natasha ’n boheemse tema aanpak. André en Kaylene toets hul gaste se uithouvermoë.

Kaylene en André

kaylene

Gesoute roosterbrood

Bestanddele
1 kg koekmeel
1 pakkie gis
’n knippie sout
1 teelepel suiker
500 ml louwarm water
cheddar na smaak
eetlepel elk groen, rooi en geel soetrissies
1 eetlepel peppadew

Metode
Meng al die droë bestanddele.
Voeg louwarm water by en knie tot ’n sagte deeg.
Bedek die deeg met ’n lappie en laat rus ’n uur teen kamertemperatuur.
Knie weer die deeg en laat rus nog 30 min.
Spuit ’n pan met kossproei of smeer dit met botter.
Vorm jou deeg in ’n broodvorm en plaas dit in die pan.
Besprinkel die rissies, peppadews en laastens die kaas oor die deeg.
Laat rus nog 10-15 min. in die pan.
Bak dan 30 tot 40 min. in ’n braaidrom met ’n deksel op.
Dit kan ook 40 min. teen 160 °C in ’n oond gebak word.

Bloukaassous vir steak

Bestanddele
1 blok bloukaas
30 ml olyfolie

Metode
Giet albei bestanddele in ’n mikrogolfvaste bak en laat dit 2 min. oor matige hitte kook.
Roer deeglik en sit voor.
Dit moet verkieslik net voor ete gemaak word, want dit kan stol as dit te lank staan.

Marinade vir steak

Bestanddele
1 koppie gekoopte steaksous
½ koppie blatjang
1 eetlepel worcestersous
1 eetlepel suurlemoensap

Metode
Meng al die bestanddele goed en laat rus 30 min.
Dié sous moet nie gebruik word vir vleis inlê nie, want dit word baie vinnig dik. Smeer liefs die vleis met hierdie marinade net voor dit van die rooster afkom.

kob19mei

Romany Cream-gebak

Bestanddele
2 boksies Romany Cream-koekies
1 koppie melk
1 L vars room

Metode
Smeer ’n oondvaste pan of ses oondvaste porsiehouers met botter.
Doop die koekies in die melk en pak dan in die oondvaste pan.
Meng die oorblywende melk en room en giet oor die koekies tot hulle heeltemal bedek is.
Bedek die pan of porsiehouers met foelie en plaas dit in ’n braaidrom met ’n deksel op. Bak 20 min. tot die beskuitjies die vorm van ’n gebakte poeding aanneem.

Suurroom vir gebakte aartappel

Bestanddele
1 houer suurroom
1 teelepel vars gemaalde knoffel
1 teelepel vars gemaalde peper
1 knippie sout

Metode
Klop al die bestanddele goed en sit voor saam met ’n gebakte aartappel.

Pieter en Rozanne

rozanne

Blommetjie-en-bytjiehoender

Bestanddele
hoenderfilette
sampioene
uie
groen, geel en rooi rissies
bottel suurlemoenmarinade
bottel heuning-en-mosterdsous

Metode
Sny die hoenderfilette, uie en rissies in lekker groot stukke. Sny die sampioene net in die helfte.
Begin dan met ’n lekker groot stuk hoender en ryg die ander bestanddele aan die stokkie, elk met ’n stuk hoender tussenin. Maak seker jy eindig weer met ’n stuk hoender wat groot genoeg is om as “anker” te dien.
Wanneer al die sosaties klaar geryg is, plaas hulle in ’n marinadebak en giet die hele bottel suurlemoen-marinade en die hele bottel heuning-en-mosterdsous oor. Seël die bak, plaas dit in die yskas en draai die sosaties elke halfuur om.
Braai die sosaties so na as moontlik aan mekaar.

Gevulde pannekoek

Bestanddele vir pannekoeke
1½ koppie water
3 koppies meel
1½ teelepel sout
3 koppies melk
6 eiers
6 teelepels gesmelte botter
spuitroom

Bestanddele vir vulsel
360 g-blikkie Nestlé Caramel Treat
1 piesang

Metode
Giet die pannekoekbestanddele saam in ’n bak en meng die bestanddele goed. Maak seker daar is geen klonte nie.
Bak die pannekoek in ’n baie warm pan. Vou die pannekoek twee keer toe en smeer dan ’n ruim teelepel Caramel Treat in een van die flappe. Sny so vyf of ses stukke piesang en plaas dit op die Caramel Treat neer. Spuit ’n lekker homp spuitroom bo-op elke pannekoek.

rozannetwee

Vrugterygstokkie

Bestanddele
aarbeie, gehalveer
pynappel, in kwartsirkels gesny
piesang, in drie gesny
strooisuiker

Metode
Ryg stukkies vrugte in dié volgorde aan sosatiestokkies: piesang, aarbei, pynappel, aarbei, piesang, pynappel. Herhaal hierdie patroon. Bestrooi die vrugte met die strooisuiker.
Moet dit nie te lank braai nie.

Groenslaai

Bestanddele
broccoli
roket
avokadopeer, in blokkies gesny
feta, in blokkies gesny
gesnipperde spek
sonneblompitte
papawersade
sprietuie, fyn gekap

Metode
Kook die broccoli so tien minute. Braai die spek in ’n pan tot gaar. Laat alles afkoel en voeg dan al die bestanddele in ’n slaaibak.

Slaaisous

Bestanddele
1 eetlepel asyn
2 eetlepels olie
3 eetlepels mayonnaise
4 eetlepels suiker
brandrissie-bief-gegeurde Aromat, na smaak

Metode
Giet alles in ’n beker en roer goed.

Paddastoele

Bestanddele
groot sampioene, een per persoon
knoffelhuisies, gekerf
botter
kaas
sout en peper na smaak

Metode
Braai die sampioene tot gaar, draai onderstebo sodat die stele na bo wys en smeer lekker baie botter en knoffel op. Sprinkel ’n bietjie sout en peper oor en laat die botter heeltemal op die sampioen smelt. Plaas nou die gerasperde kaas bo-op en laat dit ook heeltemal smelt.
Eet dadelik sodra die sampioene van die kole afgehaal word.

Natasha en Jaco

jaco

Espetadas

Bestanddele
1 kg kruisstuk, in blokke gesny
growwe sout na smaak
olyfolie

Metode
Geur die stukke vleis met sout na smaak.
Ryg die blokke vleis aan espetada-vleispenne.
Braai die espetadas op die rooster ongeveer vyf min. aan elke kant. Die sout verhoed dat die vleis brand.
Bedruip die vleis met olyfolie twee minute voor die espetadas afgehaal moet word.
Eet die espetadas dadelik nadat hulle gebraai is, anders droog hulle uit.

Kreefsosaties

Bestanddele
kreefsterte, in blokkies gesny
vars suurlemoensap

Sous

Bestanddele
botter
fyn gekapte knoffelhuisies na smaak
suurlemoensap
appelkooskonfyt

Metode
Ryg die kreefstukkies op sosatiestokkies en laat lê ’n uur in vars suurlemoensap.
Meng al die sousbestanddele in ’n potjie op die stoof.
Plaas die kreefsosaties op ’n rooster oor medium kole.
Wanneer jy die kreefsosaties draai, smeer dit met die sous.
Braai die sosaties tot gaar.

Botterskorsie

Bestanddele
1 botterskorsie, in die helfte gesny
feta
soetrissies, gekap
2 knoffelhuisies, fyn gekap
knoffelbotter
olyfolie

jacotwee

Metode
Sny die botterskorsie in die helfte en verwyder die pitte.
Pak die holtes van die botterskorsies vol feta, soetrissies, knoffel en knoffelbotter.
Smeer die botterskorsieskil met olyfolie sodat dit nie brand nie.
Draai die botterskorsies in foelie toe en plaas dit op die kole. Draai gereeld en moet nie gate in die foelie maak nie. Braai tot gaar.

Tunablikpastei

Bestanddele
Skilferkorsdeeg
25 g botter
10 g kakao
10 g versiersuiker
10 g neute
10 g bloubessies
10 g tennisbeskuitjies
1 Lindt- of Ferrero Rocher-balletjie
1 malvalekker

Ekstra
2 leë tunablikke
tinfoelie
room
heuning
aarbeie

Metode
Rol die deeg uit en sny 2 sirkels uit. Een moet so groot soos ’n tunablik wees en die ander so 1 cm groter.
Smeer die foelie met botter.
Plaas die grootste deegring op die foelie.
Besmeer die deegring met een teelepel botter.
Plaas die foelie en deegring in die tunablik
Plaas die Lindt-balletjie in die middel van die tunablik.
Meng die versiersuiker en kakao en sprinkel dit in die tunablik.
Voeg die gekapte neute, bloubessies, gekrummelde tennisbeskuitjie en gesnyde malvalekker in die tunablik by.
Strooi nog versiersuiker en kakao oor.
Giet 1 teelepel botter bo-op alles, anders droog die mengsel uit.
Plaas die klein deegring op die tunablik en vou die rande teenaan mekaar.
Smeer 1 teelepel botter bo-op die deeg.
Bak in die kole. Plaas ’n tweede tunablik bo-op die deegblik en plaas kole daarin.
Wanneer die deeg verbruin, is jou pastei amper gereed.
Haal van die kole af en laat die pastei afkoel. As jy wil, bedien dit met room, aarbeie en heuning.