Vet Sjef: Roomys by die braai

Geen nagereg pas beter by ’n braai as roomys nie, en as jy eers dié koffietoffie-warrelroomys van Die Vet Sjef van Nieu-Seeland geproe het, sal jy nie gou weer iets anders verdra nie . . . Ons sjef beantwoord ook e-posvrae, soos waarom hy so hard baklei het om in Nieu-Seeland te bly toe hulle hom weens sy gewig wou uitskop.

Foto-collage met roomys en foto van Albert Buitenhuis, die Vet Sjef

DIT maak nou nie saak of jy braai, barbie of BBQ sê nie, dit bly kos wat in die buitelug gaargemaak word op ʼn hittebron, hetsy nagemaak of eg. Ek gaan oor ’n paar weke oor braai skryf, maar ek wil eintlik agter begin en vorentoe werk. Vandag kom die poeding dus aan die beurt – en nie sommer net enige poeding nie: ROOMYS. En ja, jy kan dit self maak en eintlik baie beter doen as van die groot name.

Doen jou ʼn guns en gaan lees ’n bietjie wat alles in kommersiële roomys is – skrikwekkend. Die meeste bestanddele is net letters en syfers, geen wonder mense word allergies vir allerhande rare goed nie.

Hoekom begin ek by die poeding? Dis eenvoudig – ek weet jy kan klaar braai; Suid-Afrikaners word met die braai-geen gebore. (Party kan dit net beter doen as ander.) Maar ons kan nie almal lekker poeding maak nie; ʼn mens moet leer om dit te doen.

Dis doodmaklik om ʼn fenomenale roomys tuis te maak

Omdat braai gewoonlik met sonskyn en rugby gepaardgaan, is ʼn koue poeding die antwoord – en daarmee bedoel ek nie rooi en groen jellie nie, maar regte, romerige, dekadente roomys, die soort waarvoor jy gewoonlik ʼn groot hap van jou salaris sal betaal as jy dit van die rak af gaan koop. Die sjefgeheim hier (en die een wat die roomysfabrieke nie wil hê jy moet ken nie), is dat dit eintlik baie maklik is om werklik fenomenale roomys te maak.

Die ander lekker ding van roomys is dat jy dit sommer so bal vir bal in roomyshorinkies voorsit en dus die skottelgoed verminder; altyd ʼn pluspunt.

As swaer Jan dus volgende keer so lekker weglê aan die post-braai-roomys, sal jy kan jy sê: “Jip, dit was ek, ek het dit sommer gou-gou aanmekaargeslaan.” So hier gaan ons.

KOFFIETOFFIE-WARRELROOMYS

Koffietoffie-roomys

DIE VORIGE DAG
As jy ʼn roomysmaker het: Sit jou mengbak in die vrieskas omdat byna al die soorte 24 uur lank in die vrieskas moet wees voor dit gebruik kan word – volg jou handelsmerk se aanwysings. As jy so gelukkig is om een van die fênsie modelle te besit, kan jy bedaar – die ding vries sommer self as jy hom aanskakel.

As jy nie ’n roomysmaker het nie, laai jou ander helfte in die motor en loop koop een, dis ʼn belegging.

As die aankoop van ʼn roomysmaker nie ʼn opsie is nie, is daar ook raad. Ek verduidelik hieronder hoe om dit te doen as jy nie so ’n kontrepsie besit nie.

JY HET NODIG

VLA
4 eiergele (vries die witte tot ses maande en maak skuimpies of iets)
75 g suiker
5 ml (1 t) mielieblom
600 ml room
5ml (1 t) vanieljegeursel

Vet sjef bestanddele van vla vir roomys

Wenk Pleks van 600 ml room gebruik ek wat die Amerikaners 50/50 noem om die vetinhoud ’n bietjie te verminder: 50% melk en 50% room, dus 300 ml room en 300 ml melk. Onthou net, dit is nog steeds nie dieetroomys nie.

KOFFIETOFFIESOUS
Dis nou die warreldeel.

10 ml (2 t) mielieblom
170 g ingedampte melk (soos Ideal)
75 g moskovado- of sagte bruinsuiker
20 ml (4 t) kitskoffie (die beter soort)
15 ml (1 e) kookwater (opsioneel)

Vet Sjef: Bestanddele koffietoffie-sous by roomys

SO MAAK MENS

VLA
1 Klop die eiergele, suiker en mielieblom saam tot die kleur van oranje na wit/geel verander.

2 Verhit die melk en room tot net onder kookpunt.

3 Voeg sowat 250 ml (1 koppie) van die warm roommengsel by die geklopte eiers terwyl jy aanhoudend klop. (In Sjefiaans: Jy temper die mengsel sodat wanneer jy dit by die melk voeg, die eiers nie in roereier verander nie.)

4 Giet alles terug in die pot en plaas die pot terug op lae hitte terwyl jy aanhoudend roer.

5 Verhit die vla tot dit begin verdik, maar moet dit nie laat kook nie (weer eens: roereier). .

6 Die vla moet die agterkant van ʼn lepel kan bedek. Druk ʼn houtlepel in die vla en as jy dit uitgehaal het en jy trek ʼn streep met jou vinger oor die agterkant, moet dit lyk soos toe Moses van ouds die see verdeel het. Daar moet ’n duidelike streep wees wat nie onmiddellik inmekaarvloei nie.)

7 Plaas in die yskas en verkoel tot yskoud.

KOFFIETOFFIESOUS
1 Plaas al die bestanddele in ʼn klein potjie en bring tot kookpunt terwyl jy aanhoudend roer of klop.

2  Dit sal verdik die oomblik dat dit begin kook, en dis hier waar jy dit onmiddellik van die hitte afhaal, want as hy eers gebrand het kan jy maar weggooi, daar’s nie redde nie. As dit te dik is, kan jy die eetlepel kookwater bymeng.

3 Laat afkoel tot kamertemperatuur en hou dit daar; dit kom nie in die yskas nie.

Wenke
* Hierdie sous kan ook op sy eie as ʼn roomyssous gebruik word en op ander poedings ook.
* Dit lewer sowat 1 k sous.

En nou, alles tesame (klink soos kerkkoor-afrigting)

AS JY ’N ROOMYSMAKER HET
1
Monteer jou masjien en skakel dit aan om seker te maak dit werk.

2 Giet die vla in ’n egalige stroompie in terwyl die motortjie loop. Moet nooit die vla ingooi as die roomysmaker af is nie, die vla vries en dan kan die motortjie nie die pedale draai nie en dit is hoe menige roomysmaker al tot sy einde gekom het.

Vet Sjef werk met roomysmaker

3 As die roomys soos roomys begin lyk, plaas dit in ʼn plastiekhouer soos ’n ou roomyshouer.

4 Sny nou die koffietoffiesous by die roomys in sodat dit warrels in die roomys maak en plaas in die vrieskas tot goed geset.

5 Probeer om nie te veel te proe voor dit heeltemal geset het nie en onthou, dit maak vet; deel dit met jou mense.

AS JY NIE ’N ROOMYSMAKER HET NIE
Ek gebruik dié metode by ons restaurant en dit werk net so goed.

1 Giet die vla in ʼn glasbak van 20 x 20 cm (een van daai wat uit die vrieskas na die mikrogolf kan gaan) en plaas in die vrieskas.

2 Roer elke 15 tot 30 minute met ʼn vurk tot dit die tekstuur van sagte roomys het.

3 Volg stap 4 en 5 hierbo.

En daar’s hy, so maklik is dit.

Onthou, as jy enige vrae het: Ek is net ʼn e-pos ver by vetsjef@gmail.com

E-POSSAK

1 Hoekom het ek so hard baklei om in Nieu-Seeland te bly en nie terug Suid-Afrika toe gegaan nie?
Heelparty van julle het my hierdie vraag per e-pos gevra.

Die besluit om te emigreer was een van die moeilikste wat ek in my lewe moes neem. Ek het my werk (’n hoë pos) weens BEE verloor en moes besluit of ek tevrede kon wees met die ander opsies wat vir my beskikbaar was en of ek eerder ʼn loopbaan iewers elders wou gaan bou.

Elders was die antwoord en ons moes besluit of dit Australië, Kanada of Nieu-Seeland sou wees. Ek het my tasse gepak en die liewe Marthatjie koebaai gesoen. Nieu-Seeland was my eerste aandoenplek; daarna sou dit Australië en dan Kanada wees. In daardie stadium was ons taamlik oortuig ons sou in Kanada gaan woon en het reeds met die nodige papierwerk begin.

Dit was ʼn pragtige sonskyn-Sondagoggend toe my vliegtuig oor die Suidelike Alpe na Christchurch vlieg en ek dit vir die eerste keer sien.

Vet Sjef: Suidelike Nieu-Seelandse Alpe uit die vliegtuig

Natuurskoon mooier as wat ek in my lewe nog aanskou het. Wit toegesneeude pieke, mere en berge . . . ongelooflik. Ek kon nie wag dat die vliegtuig land en ek dit van nader af kon bekyk nie.

Liefde met die eerste oogopslag.

Ek probeer dit altyd so verduidelik: Jou land van herkoms is soos jou ma. Maak nie saak hoeveel keer sy jou agterstewe warm maak nie, jy bly baie lief vir haar.

Maar dan, een dag, sien jy háár, die een met wie jy die res van jou lewe wil deel. Jy is raak so verlief dat jy nie eens verder soek nie en net daar begin jy die huwelik beplan.

As iemand dan ʼn stokkie voor daai verhouding probeer steek . . . Wel, ek is bereid om te baklei vir die dinge waarvoor ek lief is, en baklei dié het ek, maar dis ou nuus.

Die uiteinde van die groot baklei was ’n werkpermit van nog 23 maande en as ek my knie self in dié tydperk laat vervang, kan ek weer om permanente verblyf aansoek doen. Ek het ʼn plan of twee in my agterkop om die geld vir die knievervanging te genereer, maar ek moet eers ʼn bietjie geld bymekaarsit om dit aan die gang te kry. Ek belowe om jou later meer te vertel as ek eers aan die gang kan kom.

2 Die Dros se skaapnekresep
Debbie van Staden: Ek wag vir hul antwoord en sodra ek dit kry, laat ek jou en almal anders weet.

Baie dankie vir al julle e-posse en goeie wense oor die Kerstyd en met my verjaardag. Mag die voorspoed julle blootsry in 2014.

Die Vet Sjef

 Die Vet Sjef, oftewel Albert Buitenhuis, beoefen sy nering by ’n eetplek in Christchurch, Nieu-Seeland en die Kiwi’s staan tou op die dae wanneer hy boerewors of sosaties voorsit. As jy enigiets oor kos wil weet, vra gerus. Gaan loer ook op sy eie blog.