Ons geheime familieresep: Magogo se hoenderkerrie

Die bekende Vet Sjef van Nieu-Seeland deel vandeesweek watertand-hoenderkerrie met ons  smulpape.

Main

KOM ek vertel julle van magogo (ouma) se hoenderkerrie. Dis nie ʼn rasegte kerrie nie en kom al saam met my familie van die jaar toet af. Die ouma-deel van die naam verwys glo na die murgsagte, geurige hoender. Ou oom Dawie Mekêniek van Hendrina het altyd vele boodskappe vooruit gestuur om seker te maak my ma weet wanneer hy in Pretoria aankom, want hy wou sy maandelikse MHK-fieks hê. Sy gunsteling was om dit saam met “begrafnisrys” (geelrys) te eet, maar enige rys, pasta of kapokaartappels sal werk.

Dit het my mooipraat en baie jare se bedel gekos om hierdie resep uit my liewe ou moeder te vry en sy gaan my seker lelik kwalik neem, maar dis te lekker om net vir my te hou. Daarom gaan ek dit nou met jou deel – maar net met jou, want ek glo jy sal nie so roekeloos wees om dit verder te versprei nie.

Jy sal nie glo hoe maklik dit is en hoe verruklik die eindproduk is nie.

Magogo se hoenderkerrie

Wat het jy dus nodig?
6 middelslag-uie, gekap
4 e (60 ml) kanola-olie
3 vet knoffelhuisies, fyn gekap
3 e (ruim 15 ml) kerriepoeier (besluit self hoe warm)
2-3 appels, grof gerasper (ek verkies Granny Smith, maar jy kan enige appels gebruik)
1,5-2 kg hoenderporsies
sout en peper na smaak
1 e (15 ml) gerookte paprika
1 blik (420 g) hoenderroomsop van ’n goeie gehalte

So maak mens
Voorverhit die oond tot 160 °C.

1 Braai die ui in die kanola-olie tot goudbruin. Voeg die knoffel by en braai nog sowat ’n minuut. Roer die kerriepoeier en gerasperde appel by.

2 Rangskik die hoenderporsies in ʼn vuurvaste bak. Strooi die sout. peper en paprika oor.

3 Smeer die kerriemengsel op.

4 Giet die hoederroomsop bo-oor die gereg.

5 Bak 2 uur onbedek in die voorverhitte oond.

Let wel Moenie die hoender roer nie en as jy hom nog ’n halfuur in die oond wil vergeet, sal ek nie in jou pad staan nie.

Lekker eet! Volgende keer deel ek my weergawe van ’n gereg wat MasterChef Australia hier noordoos van ons  berug gemaak het: kola-ribbetjies.

Mooi loop tot dan!

Die Vet Sjef

Die Vet Sjef, oftewel Albert Buitenhuis, beoefen sy nering by ’n eetplek in Christchurch, Nieu-Seeland en die Kiwi’s staan tou op die dae wanneer hy boerewors of sosaties voorsit. As jy enigiets oor kos wil weet (al is dit die Dros se resep vir skaapnek), vra gerus. Gaan loer ook op sy eie blog.