Ouma Clooney verklap die geslag(te) van George se tweeling

George Clooney se ma het onthul die akteur en sy vrou, Amal, gaan later vanjaar ’n seun en ’n dogter verwelkom. Die nuus dat Amal, ’n menseregteprokureur, ’n tweeling verwag, het vroeër vandeesmaand bekendgeraak.

Foto: Cover Media

Foto: Cover Media

Die egpaar het nog nie kommentaar gelewer oor die goeie nuus nie, maar George se ma, Nina Clooney, het onthul “dit sal een van elk wees. Ja, ’n seun en ’n dogter,” het sy aan Vogue gesê. “Dis wat ek gehoor het. Hoe fantasties! Ek en my man is ongelooflik opgewonde.”

Amal gaan luidens berigte berig in Junie die lewe skenk. Iemand wat George ken, sê hy voel angstig oor die feit dat hy op 55 die eerste keer pa word.

“George is opgewonde, maar senuagtig,” het die ingeligte bron aan people.com gesê. “Hy is opgewonde oor die kleingoed, maar ervaar vanselfsprekend die natuurlike senuagtigheid daaroor.”

Nina glo haar seun sal ’n “fantastiese” pa wees.

“Ons is geweldig gelukkig vir hul onthalwe; ek kan nie aan twee mense dink wat beter ouers sal wees nie,” het sy aan die tydskrif Us Weekly gesê.

“Ek dink hy sal fantasties wees, en ek dink sy gaan ’n fantastiese ma wees,” het sy bygevoeg. George se vriend Matt Damon dink ook hulle sal goeie ouers wees.

“Ek is so ongelooflik bly vir hom,” het die akteur aan Entertainment Tonight gesê. “Amal is verstommend. Hy het die boerpot gewen – op alle vlakke. Sy is ’n merkwaardige vrou. Hulle gaan fantasties wees. Hulle gaan fantastiese ouers wees. Daardie kleintjies is gelukkig.”

Matt het onlangs grappenderwys gesê ’n tweeling sal die Clooneys beslis slapelose nagte besorg.

“Hy het vir my gesê: ‘Wel, jy het vier,’ het Matt Donderdag op The Ellen Show gesê. “En toe sê ek: ‘Ja, maar nie almal tegelyk nie. Ons het dit een op ’n slag gedoen. Ek weet nie hoe enigiemand met ’n tweeling regkom nie. Daai slapelose nagte . . . En daar is twee van hulle? Daar is nie ’n manier nie, maar ons sal sien.”

© Cover Media