Hertogin van Cambridge vier 35ste verjaardag eie aan haar aard

Catherine het Maandag haar 35ste verjaarsdag gevier. Foto: WENN.com

Catherine het Maandag haar 35ste verjaarsdag gevier. Foto: WENN.com



Daar was geen koninklike bal of weelderige tuinparty om die hertogin se mylpaalverjaardag te herdenk nie.

Eie aan haar aard het Catherine, die hertogin van Cambridge, ’n stil dag op haar 35ste verjaardag saam met familie by hul huis, Anmer Hall, in Norfolk gekies, berig ABC News.

Maar ons is nie so seker hoe stil dit sou gewees het met die parmantige prins George (3) en die 20 maande oue prinses Charlotte in die omtrek nie.

Die koninklike kleingoed het darem hul beste voetjie voorgesit twee dae voor hul ma se groot dag toe hulle saam met Kate en hul pa, prins William (34), ’n kerkdiens op die koningin se landgoed Sandringham bygewoon het.

Die koningin, wat deur griep platgetrek is, was ook by die diens. Dit was haar eerste openbare verskyning in meer as twee weke.

Dit is geen verrassing nie dat Kate ’n intieme gesinsverjaardag gekies het. Die ma van twee gaan baie van haar jong kinders af weg wees wanneer haar kalender van koninklike verpligtings vandeesweek begin.

Volgens The Mirror sal Kate Woensdag terugkeer werk toe. Sy sal haar nuwe jaar se verpligtings begin met ’n besoek aan die Anna Freud Nasionale Sentrum vir Kinders en Gesinne in Noord-Londen.

Tydens die besoek sal sy meer te wete kom oor die sentrum se werk met gesinne wat kinders onder vyf het.