Enkelbesering kortwiek Amor se deelname aan pantomime – raai wie gaan nou die bose Belladonna speel

Sy het baie uitgesien na haar rol in die produksie Doringrosie, maar was genoodsaak om te onttrek weens die rehabilitasie van haar beseerde enkel.

Amor het 'n tyd gelede haar enkel beseer en ontvang tans rehabilitasie.

Amor het ‘n tyd gelede haar enkel beseer en ontvang tans rehabilitasie.

Amor Vittone sou die rol van die bose Belladonna (of Maleficent) vertolk het in die pantomime wat binnekort by Emperors Palace op die planke is. Amor se enkel is in Januarie in ’n fratsongeluk beseer toe sy by ’n Johannesburgse trampolienpark beseer is op haar seun, Jordan, se 13de verjaardagpartytjie.

Die sangeres en deesdae TV-ster het saam met haar kinders op die springmatte gespring toe sy haar linkerenkel breek en die ligamente skeur.

Bianca Le Grange, wat haar debuut in 2012 gemaak het met haar verskyning in Idols, neem die rol by Amor oor.

Janis Ellis, publisiteitsbeampte, sê hoewel die produksiespan probeer het om die rol aan te pas, is die rehabilitasieproses van so ’n aard dat dit vir Amor onmoontlik is om deel te wees van Doringrosie.

“Sy word alle sterkte toegewens vorentoe,” het Janis gesê.

Huisgenoot kon Amor nie Maandagoggend telefonies bereik nie. Sy het aan die einde van verlede jaar aan Huisgenoot gesê sy is opgewonde oor die rol, want mense ken haar as Amor die Lotto-meisie of danseres en dié karakter is iets heel anders.

Sy het Maandagoggend op Facebook geskryf haar pa gaan hospitaal toe vir ’n operasie. Sy het gesê hulle bid vir hom en glo God en sy engele gaan hom al die pad beskerm.

Bianca, wat reeds vier solo-albums uitgereik het, sluit haar aan by Charlize Berg, in die titelrol, en Marno van der Merwe, wat as die heldhaftige prins Aalwyn te sien is.

amor-45ste

Intussen het Amor ook onlangs haar 45ste verjaarsdag gevier. Sy het die naweek lekker partytjie gehou en foto’s van die spoggerige geleentheid op Facebook gedeel.

Kyk hier na ’n fotoalbum daarvan: