73-jarige Mick Jagger se babaseun maak debuut – kyk skattige foto!

Mick Jagger se pasgebore seun, Deveraux, het sy debuut in die sosiale media gemaak.

Die 73-jarige hoofsanger van die Britse rockgroep The Rolling Stones en die Amerikaanse ballerina Melanie Hamrick (29) het vroeër die maand in New York ’n babaseun verwelkom. Melanie het nou op Instagram met die kleinding gespog.

“Ek is so verlief op my baba, Deveraux Jagger,” het sy geskryf. “Dankie, @lizzyjagger, vir die oulike bekendstelling.”

I'm so love with my baby Deveraux Jagger 💙 Thank you @lizzyjagger for the sweet introduction 😍😂 ❤️

A photo posted by Melanie Hamrick (@melhamrick) on

Deveraux se ouer suster Lizzie Jagger (32) het die baba se naam Vrydag op die sosialemediaplatform bekendgemaak.
“So trots op my pragtige bababroer, Deveraux Octavian Basil Jagger,” het sy geskryf.

Mick gaan van middel 2014 aan en af met Melanie uit. Hulle het mekaar begin sien net maande nadat sy destydse meisie, die modeontwerper L’Wren Scott, op 49 haar eie lewe geneem het.

Melanie het in 2016 tydens The Rolling Stones se toer deur Suid-Amerika met hul eersteling swanger geraak en sy en Mick het die nuus in Julie bevestig.

’n Maand later het die paartjie ’n wetlik bindende finansiële skikking aangegaan om te verseker daar sal goed in die ma en baba se behoeftes voorsien word ongeag die status van Mick se verhouding met Melanie.

Luidens berigte het Mick ingestem om Melanie sowat R202 500 per maand te betaal tot die kind 18 word. Dit beteken die danseres, wat in New York woon, sal ’n geraamde R44,55 miljoen in die sak steek. Mick het ook vir haar ’n huis gekoop.

Deveraux is Mick se agtste kind.

Hy het vier kinders by die voormalige model Jerry Hall (60) van Texas – Elizabeth (Lizzy), James (31), Georgia (24) en Gabriel (19) – ’n dogter, Jade (45), by sy eerste vrou, Bianca Jagger (71), nog ’n dogter, Karis (46), by die aktrise Marsha Hunt (70), en ’n seun, Lucas Jagger (17), by Luciana Gimenez (47).

– Cover Media