Dis lekker om van helde te lees, maar soms tuimel hulle met ’n groot gedruis en dan is dit ongelukkig ook groot nuus. So is dit dan dié week met twee bekendes, en in die geval van Jurie van Zyl van Boer Soek ’n Vrou-faam soek ’n mens kliphard na selfs ’n flarde begrip vir sy gedrag. Lees op bl. 10 hoe dié kêrel voet in die wind geslaan het die oomblik toe hy hoor sy meisie, die mooie Sharon Berrington, is swanger. Nee man, Jurie!
Oor Oprah se skandes het ons in die verlede al uit haar eie mond gehoor, maar nou kom daar skandes by uit ’n nuwe boek wat geheime oor die kletskoningin onthul waarvan ons hier op kantoor salig onbewus was.
Toe die manuskrip laat op ’n Vrydagmiddag hier by ons aankom en twee van onsmoet gou blaai en lees en besluit of julle dit ook sal wil lees, kon ons ons kwalik wegskeur. Lees ons eksklusiewe uittreksel op bl. 14 en kyk sommer ook na die foto’s van ’n jong Oprah wat ons nog nie voorheen gesien het nie.
Oor Oprah se kattemaaiery as tiener het ’n mens wel gemengde gevoelens. Sy is as kind van bakboord na stuurboord tussen twee ouers gestuur, en toe beland sy boonop as een van net ’n hand vol swart kinders
– en brandarm daarby – in ’n skool vir rykes waar sy soos ’n puisie op ’n skoonheidskoningin se gesig gevoel het.
Hoe sê hulle nou weer van eers ’n myl in ’n ander se skoene stap?