Ons Gautengse redakteur, Inge Kühne, het reeds ’n afspraak met Amor Vittone gehad om oor haar loopbaanplanne te gesels toe die nuus komdat Joost uitgetrek het. Sou sy nog met ons wou gesels, het ons gewonder.
Sy wou. Sy is moeg vir wegkruip, moeg vir bespiegeling, moeg vir voorgee alles is piekfyn, het sy gesê, en die uiteinde is ’n openhartige onderhoud waarin sy haar hart uitstort oor Joost en die dinge wat ’n wig tussen hulle kom indryf het.
Sy praat ook aangrypend oor haar kinders, en onthul hoe ’n drama met haar seuntjie, Jordan, haar laat besef het niks is vir haar belangriker as die welstand van haar seun en dogter nie.
Dis stof wat elke vrou wat al ooit in dieselfde posisie was, aan die hart sal gryp – en sommer almal wat oor die jare die lief en leed van ons Lotto-meisie gevolg het.
Sokkerkoors is nou byna op kookpunt, en daarmee saam kom ’n lang, lang wintervakansie en ’n tipiese Huisgenoot- vakansiebonus: ’n heerlike spannende vervolgverhaal van almal se gunsteling-skrywer, Annelie Botes. Dit loop oor vyf weke en is slim geweef om oud en jonk mee te sleur.
Ons verhale-illustreerder Mindi Flemming meen trouens dis verpligte leesstof vir elke tienermeisie. Moet dit nie misloop