29 Julie 2010

E-pos
Print

Dit het gewemel van Afrikaanse sterre by ons sustertydskrif YOU se jaarlikse glansgeleentheid, die YOU Spectacular.

En ’n hele klomp van hulle het met van die aand se gesogste pryse weggestap. Lekker, nè?

Die mense van die Laan het gejubel toe 7de Laan aangewys is as die land se gewildste sepie – ’n nuwe kategorie.

YOU se lesers het self vir die wenners gestem. En die lieflike Diaan Lawrenson het toe ook die beeldjie vir die gewildste aktrise opgeraap, terwyl Terence Bridgett (wat onder meer Wong in Erfsondes speel) as gunsteling-akteur skoonskip gemaak het.

Die nuusmaker van die jaar, wat deur YOU se redaksie gekies word, lok altyd groot belangstelling uit. Vanjaar se voorstelle het gewissel van Julius Malema tot Caster Semenya, en natuurlik talle van die mense wat die Wêreldbekersokkertoernooi so ’n reuse sukses gemaak het.

Ons YOU-kollegas was baie kreatief – naas mense soos Danny Jordaan en sy span van die plaaslike reëlingskomitee was daar selfs ’n paar stemme vir die vuvuzela! Maar op die ou end is besluit dié eer kom vanjaar nie ’n individu (of ’n blaasinstrument) toe nie, maar die hele Suid-Afrika. Met my YOU-hoed vir die aand op my kop was dit ’n voorreg om as wenner aan te kondig: “YOU se nuusmaker van die jaar is Suid-Afrika, trotse gasheer van die Fifa-Wêreldbeker!”

Die plaaslike reëlingskomitee se mediabestuurder, Jermaine Craig (links), was daar om die beeldjie namens ons almal
te ontvang – en wou net seker maak of hy dit wel in sy kantoor mag hou!

Dis ’n besige tyd vir ons klomp, met Huisgenoot se Tempo-toekennings wat eerskomende Dinsdagaand by Emperors Palace in Johannesburg oorhandig word. En soos verlede jaar, word die wenners van ons gewilde liedjieskryfkompetisie ook dié aand aangekondig, en die wenliedjies vir die eerste keer daar opgevoer.

Nog ’n lekkerte: Die Tempotoekennings word op Vrydag 3 September om 19:30 op kykNET uitgesaai.



Jou kommentaar is suksesvol gestuur!


Gebruiksooreenkoms:
Huisgenoot behou die reg voor om enige/alle kommentaar te redigeer en/of uit te wis.
Kommentaar wat hier ontvang word, kan ook gebruik word vir publikasie in die Huisgenoot-tydskrif of verwante Media24 publikasies.

Kommentaar word gemodereer en gepubliseer of uitgewis op grond van:
  • Die toepaslikheid van die kommentaar op die artikel
  • Beledigende inhoud
  • Verdagte gebruikersnaam en/of eposadres
  • Herhaling van mening en/of kommentaar
  • Kommentaar wat die Huisgenoot-handelsmerk skade kan doen

Kommentaar (1)


  1. Amanda Meyer
    2010/07/27 02:21:16 nm
    Hi wil net weet hoeveel vir jaarlikse subskripsie by julle
    Cheers
    Amanda