O, dit was lekker! ’n Hele 15 000 mense – nie net Kapenaars nie, ek weet van mense wat van Namibië en Johannesburg gevlieg het – wat in vervoering luister na ons topkunstenaars saam op een verhoog.
Dis natuurlik SkouspelPlus, aangebied deur Huisgenoot en ons sustertyd-skrif YOU, wat verlede naweek in die GrandWest-casino se Grand Arena gehou is (sien bladsy 188). Daar was te veel hoogtepunte om te noem (my blog hieroor is op ons webtuiste), maar een van my grootste hoendervleis-oomblikke was die goue sangpaar Rudi en Corlea.
Sondagaand was ons terug in die Arena met ’n splinternuwe konsert waartydens die 10 finaliste van ons tienertalentwedstryd saam met groot name soos Kurt Darren en Emo Adams opgetree het. Wat ’n belewenis! Die gehoor was fantasties – dit was ’n gejil en geklap en ge-opspring ná elke liedjie – en die kinders het almal verstom. Hierdie Huisgenoot-musiekbaba gaan beslis gróót word. Maak seker jy is volgende jaar daar! Volgende week skryf ons nog hieroor.
SkouspelPlus het vanjaar nog ’n nuutjie opgelewer – ons modespan het ’n bietjie by GrandWest rondgeloop om van die konsertgangers se uitrustings af te neem. Volgende week wys ons julle hoe die vroue uitgehang het, en die week daarna plaas ons nog lesersmodes op ons webtuiste. In die geharwar het hulle vergeet om die Huisgenoters se name neer te skryf – oeps, volgende jaar maak ons reg! Op ons skoonheidsblaaie wys ons ook volgende week hoe van die topkunstenaars se grimering gedoen is.
En vir almal wat altyd wil weet, Charlene Sauerman van Kaapstad het weer eens my mooi rok gemaak. Dankie, Charlene!
Spesiaal in hierdie week se uitgawe: 'n 16-blad boekie propvol noodnommers, reiswenke en toeriste-inligting! Hou dit in jou motor. Hou dit lanks jou huistelefoon. Maar moet dit nie misloop nie!